IN sy ses jaar as hoof van die Sandwater Primêre Skool in die hartjie van Umzamewethu, Oesterbaai, is Hennie Ferreira (62) ’n pa en mentor vir honderde jong leerders – maar nie net vir die kinders by die skool nie, maar ook die res van die gemeenskap.
Al kos dit ure, selfs maande, se harde werk – en kleurvolle plastiekblokkies: blou, geel, rooi, swart en wit, maar hier word beslis nie gespeel nie. Te veel is op die spel. ’n Hupstoot en kwaliteitonderrig.
Met ’n passie vir dié beroep diep in sy hart, sê Ferreira wat swaarkry kén: “Dit gaan oor veel meer as net skoolhou. Ek wil ’n blywende verskil maak. Ek wil my gemeenskap help ophef.
“In my posisie as skoolhoof kan ek ’n verskil, hoe gering ook al, in menige leerders se lewe maak sodat hulle besef enigiets is moontlik; dat jou huidige omstandighede nie jou toekoms hoef te bepaal nie.”
Maar hoe?
Deur daagliks die ekstra myl, en selfs meer, vir leerders by die skool te stap – veral vir die wat sukkel om te lees en skryf.
Dít is presies wat hy met sy intervensie-groep sedert die begin van die jaar vermag.
Wanneer hy noodgedwonge oor drie jaar af-tree, sal hy met ’n geruste hart weet dat hy vir meer as een kind die geleentheid gebied het om uit te styg.
Intervensie-groep
Ferreira frons liggies: “Dit breek my om te sien hoe baie leerders sukkel – veral om te lees, te skryf en te spel – weens die moeilike omstan-dighede waarin hulle grootword.
“Ek het besef: iets moet gedoen word om die leerders te help wat te veel in hul gewone klas sukkel en met hul werk agteraak.”
Só is die reeds suksesvolle intervensie-groep in Januarie, vanjaar op die been gebring – na ’n kort proeflopie in 2018.
Daar is tans 30 graad 5 tot graad 7-leerders in die klas. Die skool spog altesaam met 177 leerders vanaf graad R tot graad 7, en ses onderwy-sers (insluitende die skoolhoof).
“Die doel van dié groep is om leerders ’n ekstra en broodnodige opvoedkundige hupstoot in die lewe te gee. Daar word veral klem op lees, in Afrikaans en Engels, gelê. Wiskunde, Na- tuur- en Sosiale Wetenskap volg later.
“Soms moet alternatiewe tegnieke ingespan word, onder meer die gebruik van kleurvolle blokkies om wiskunde te verduidelik, asook prente en individuele aandag.
“Ons werk teen ’n stadige tempo en die atmosfeer in die klas is baie ontspanne.
“Na maande se harde werk, sien baie van die leerders my as ’n vaderfiguur en mentor.”
Sodra die werk voldoende onder die knie is, keer die spesifieke leerder terug na sy oorspronklike klas.
Hy glimlag trots: “Twee leerders is al sedert die begin van die jaar terug na graad 5 geskuif waar hulle nou floreer.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe iets so klein, leerders laat straal en die selfvertroue en hoop gee dat hulle enigiets kan word en aanpak.
“Die verskil wat ons in leerders se lewe maak, is te danke aan uitstekende spanwerk. My personeel en die hele skool doen ongelooflike goeie werk.”
Droom
Sy groot droom vir die skool: dat elke leerder wat deur die hekke van die skool stap, met liefde behandel word, uiteindelik graad 12 slaag en tot hulle volle potensiaal ontwikkel – hetsy dit as dokter, onderwyser, ingenieur of ambagsman is.