Kitaar in die hand, deuntjies in die kop

DIE stof lê laag oor die kronkelende teerpad en sitrusboorde vol jong boompies – die hoop beskaam nie vir elke wolkie wat in die verte aankom nie.


DIE stof lê laag oor die kronkelende teerpad en sitrusboorde vol jong boompies – die hoop beskaam nie vir elke wolkie wat in die verte aankom nie.

Maar die groot reën bly weg. En die Kouga-dam onder halfleeg ge-tuig van die grootste droogte in die geskiedenis van die Gamtoosvallei.

Beurtwater, ingestel deur die Departement van Water en Sanitasie, is ’n daaglikse werklikheid vir boer en inwoner. Soms is daar glad nie water nie.

“Ons is al kundiges in droogtebestuur en die effektiewe besparing van water,” sê die Gonjah-sitrusboer, Jakoos Scheepers (32), waar hy gemaklik in sy kortbroek, stewels en baadjie – die oggende is reeds geniepsig koud – oorkant my by Tolbos-restaurant in Patensie sit.

Ons is egter nie hier om oor die droogte te praat nie.

Maar oor sy musiek.

Net waar hy die geleentheid kry, vermaak hy mense met sy diep stem: hetsy by ’n basaar, fees of troue.

’n Hoë noot kan hy belis nie sing nie, lag die ongekunstelde boer met sy oop gesig en breë glimlag wat net so tuis agter ’n mikrofoon en kitaar is, as op ’n trekker in die sitrus- boorde.

Sy grootste aanhanger? Sy kunstenaar-verloofde Hilde Alet Malan (31), wat langs my sit en kort-kort diep in sy oë kyk.

Die troudag: November, vanjaar.

Maar voor dán maak Jakoos eers ’n draai op die verhoog by die eerste Gamtoos Bash in Patensie op 15 Junie, waarna die paartjie by die SPAR Kirkwood Wildsfees (ATKV-stasie) te sien sal wees.

Jakoos sing, terwyl Hilde se sketse onder haar skeppende hande vorm en lewe kry.

Boerseun-sanger

Vanwaar die boerseun se liefde vir musiek?

Jakoos, wat reeds as ’n jong seun ’n onblusbare liefde vir musiek ont-wikkel het, glimlag: “Ek het in ’n baie musikale familie grootgeword. Van my ma tot by my drie susters . . . en natuurlik ek.

“Vandat ek kan onthou, was mu-siek deel van my bestaan. Vivaldi, onder andere, het gereeld Sondae na kerk vanaf die platespleler in ons huis opgeklink.”

Met die aanvang van sy laer- skoolloopbaan, het hy sy eerste formele musiektreë gegee: OP-Jeugkoor, asook klavier- en dwarsfluitklasse. Maar vir dié lesse het hy gou moeg geword.

In graad 4 het hy drie basiese ki-taar-akkoorde met die hulp van die befaamde Randall Wicomb baasgeraak. Vandaar was daar geen keer nie – dié instrument moet hy bemeester.

Hy het verskeie van sy ma se mu-siekboeke deurgewerk en geleer om op gehoor te speel.

Jakoos vryf deur sy effens deurmekaar hare: “Dit was egter nie naastenby genoeg kennis om die ki-taar suksesvol te bemeester nie.

“Waar ek kon, het ek begin kitaar speel: CSV, kerk, kampe en by vriende. My ma het uiteindelik ingestem dat ek vir kitaarlesse – rock en blues improvisasie – by dr. Howard Nock in Port Elizabeth gaan.”

Dit is hier waar sy liefde vir die elektriese en akoestiese kitaar behoorlik vlamgevat het.

Op universiteit, waar hy landbou studeer het, het Jakoos sy musiektalent as deel van die Stellenbosch-koor en -musiekgroep geslyp.

Nou vermaak hy plaaslike inwo-ners en besoekers met sy gawe.

Sy gunstelingmusiek om te speel: The Lumineers, Johannes Kerkorrel, Koos du Plessis, Mumford and Sons, Valiant Swart, Spoegwolf, Gian Groen, Chris Chameleon en Herman Kleinhans (Patensie-lied-jieskrywer en lid van die groep, Twee).

Hoewel hy al van sy eie liedjies geskryf het, speel hy dit nie graag voor mense nie. “Ek is nog nie gemaklik om dit te sing nie,” sê hy.

Al dink sy verloofde, wat ook in die OP-Jeugkoor gesing het, dit is baie goed.

Hilde Alet Malan

Die bietjie stout sit ’n glimlag op sy gesig: “Maar vra háár oor haar werk. Sy teken immers die mooiste prente . . .”

Hilde, ’n kunstenaar en deeltydse produksiebestuurder op hul fami-lieplaas Stuck van Acth, lag: “Ek is bly jy hou so baie van my werk.”

Dié plaasmeisie wat onlangs haar eie studio by haar huis op Patensie oopgemaak het – ’n jarelange droom – was nog altyd lief vir teken.

As jong kind het haar prente – die mooiste – altyd teen haar oupa se muur by sy vakansiehuis gepronk. Tot haar suster se ontsteltenis.

En op skool was haar kunswerke as die mooiste uitgewys – al het die blomme in die lug gehang.

Ná skool het sy kuns by die Universiteit van Stellenbosch studeer, en kunsklasse gegee voor sy terug plaas toe gekom het.

Sedert haar kuns in 2015 gesogte items vir vele kunsliefhebbers geword het, verkoop sy tussen 30 tot 50 skilderye per maand– plaaslik, nasionaal en internasionaal. Alles deur Facebook, Instagram en persoonlike verwysings.

Sy gebruik verskillende mediums vir haar teken- en verfwerke: pen, potlood, houtskool, akriel en olie-verf. En hou veral van Proteas en abstrakte-werke.

“My kuns is eiesoortig, ek het my eie tegniek wat steeds elke dag ont-wikkel. Dit is iets baie persoonlik wat emosies en gevoelens vasvang,” sê sy.

“Vir my gaan die twee hand-aan-hand omdat mens met lyn en beweging in albei vorms werk. Kuns maak dit vir my moontlik om myself te verloor en op dieselfde tyd ook te vind.”

Dit is ook vir haar lekker om iets vir iemand te maak wat by hulle styl of idees pas, maar steeds uitstaan as ’n Hilde Alet Malan-kunswerk.

You need to be Logged In to leave a comment.