Die kroning van Koning Charles is sekerlik nog vars in baie se geheue. Wat my opgeval het, is dat niemand tydens die urelange seremonie gesien is wat uitgestap het om te gaan piepie nie.
Van die bejaardes tot die jonge koorknapies het dalk maar suutjies daar gesit of staan en knyp totdat die hele affêre afghandel is. En dié seremonie het veel langer geduur as die gemiddelde twee ure van ‘n teater-produksie.
Met die afgelope Kunskoors het ek weer beleef hoe ‘mak’ sommige teatergangers is om goedsmoeds gedurende ‘n produksie die saal te verlaat. As hulle dit nou net suutjies doen, kan mense verstaan – maar dit gaan meestal gepaard met ‘n moewiese handsak wat teen almal stamp oppad uit die teater. Diegene sit gewoonlik in die middel! Dan mompel hulle nog ‘askies, sorry, oeps’ met die uitstrompel. Dieselfde met die terugkomslag. Was dit nou by ‘n lawaaierige, uitbundige sportgeleentheid, was dit ‘n ander storie – maar in ‘n teater is dit onvanpas.
Daar is sowat tien ‘gebooie’ vir teatergedrag wat ek ondersteun:
• Om vroeg te wees, is betyds; net betyds beteken jy is laat. Deure maak gewoonlik stiptelik toe, en dan kan die teaterganger nie nog sukkel oor ander om by die sitplek uit te kom nie.
• Moenie praat in die teater terwyl akteurs hulle stemme ooreis sodat jy kan hoor nie. Hou gedagtes vir ná die tyd. Dis steurend as iemand praat, want dan mis mens soms ‘n sleutelsin.
• Selfone is ‘n euwel in die teater. Jy het mos gekom om ‘n produksie te geniet. Dis gewoonlik om en by negentig minute, en jy kan dan sekerlik die rukkie uitstaan sonder om na die foon te kyk. Dit moet af en weggepak wees. Die helder lig trek almal se aandag en jy sal beslis vuil kyke kry.
• Daarbenewens is dit onvanpas om foto’s te neem en opnames te maak tydens die vertoning. Luister en kyk eerder met aandag, as deur die skerm.
• Gaan net ongemerk uit as dit ‘n werklike noodgeval is – soos ‘n neus wat bloei, ‘n dreigende hartaanval of…wel…nou ja…’n grooooot nood. Onthou om die draaie te loop vóór die vertoning. Dan behoort jy maklik ‘n bietjie te kan knyp. Om te gaan rook is nie ‘n noodgeval nie.
• Eet gerus vooraf in die foyer lekkernye en drink ‘n ietsie, of agterna, maar beslis nie in die teater nie. Dit kan nog in die fliek gebeur, maar nie in die teater nie. As jy weet jy gaan ‘n hoes- of suiglekker nodig hê, haal dit vooraf uit die papiertjie en hou dit byderhand – nie heel onder in ‘n groot sak nie.
• Lag gerus hartlik vir grappies van die verhoog af, maar nie vir liefdestonele of iets oor die dood nie. Lag klaar, want die volgende laglyntjie volg dalk kort op mekaar en dan vang jy, of die ander om jou, dit nie.
• Dis noodsaaklik om kinders al van jongs af aan die kunste bloot te stel, maar jy moet besluit of die kind wat jy saamneem teater toe, dit sal verstaan en geniet. Soms is klein kindertjies net te lastig, en dan eindig ma/pa en kind buite op.
• Dit is nou maar eenmaal so dat teaterkuns ‘n bietjie meer respek verdien as ‘n fliek. Wys dit deur effens ‘op te dress’. Nie met ‘n sweetpak of tekkies nie. Dis nie prys van die klere wat tel nie, maar die styl. Los maar die hoed by die huis – dit versper mense agter jou se sig.
• Respekteer die gedeelde ruimte. Sit op jou bespreekte plek, hou jou arms en bene in jou ruimte, en moet om hemelsnaam nie snork en snuif nie!
Geniet die kunste!