“As ek vir mense kosmaak, moenie net die maag vol wees nie, maar ook die hart!” sê die wennerkinkelkok van kykNET se kookkompetisiereeks Kokkedoor: Vuur en Vlam, Gert Joubert (31). Sy spanmaat was Karen Els van Malmesbury.
Sy liefde vir kosmaak het al kleintyd in sy ma se kombuis onstaan waar hulle op ‘n plaas gebly het. “My hele familie is eintlik lief daarvoor om kos te maak.”
Opleiding
Dié kokkedoor klong met die positiewe uitkyk,het aan die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp gematrikuleer. “Dit is ’n wonderlike skool. Vir my was dit so aangenaam daar – ek kon nie wag om skooltoe te gaan nie. Die onderwysers was altyd aanmoedigend,” sê hy dankbaar. Na skool het hy hom gekwalifiseer aan die Culinary Academy se Hertz kampus. “Rebecca Hertz is regtig baie streng, maar ek besef dit was tot my voordeel.”
Gert het daarna ondervinding opgedoen tydens sy internskap in Franschhoek, by die Links in St Francisbaai, die Rosebarn, verskeie hotelle van Gqeberha hotelgroep soos die Beach Hotel, The Sands en die Ginger restaurant. “Ek het toe besef dat my sterkpunt en liefde eintlik huiskos is – soos my ma se styl. Ek het ook regtig baie by die Infood Restaurant op Jeffreysbaai geleer. Dit was nou goeie ervaring oor die hele spektrum!”
Ontmoet vrou in die kombuis
Dit was toe Gert by die Africanos restaurant in Addo werk, dat hy sy mooi vrou Bianca ontmoet het waar sy die kombuisbestuurder was. “Ons het in 2018 getrou, en kort daarna ons droom verwesenlik en ’n restaurant in Gqeberha geopen. Covid het ons ’n harde slag toegedien. Mens verloor alles oornag.”
Maar die kokkedoor het nie stilgesit nie, en het begin huise verkoop, met groot sukses. Hy het sommer gou aanbiedings gekry en werk nou as konsultant vir verskeie restaurante waar hy bv. help met begrotings en spyskaarte. “Om jou eie baas te wees is kwaai, harde ure en die stres is meer, maar die voordele is goed. Ek geniet dit ook om funksies te doen.” Die paartjie se tweejarige seuntjie, Deandré, het hulle rede gegee om deur te druk.
Kokkedoor
Gert se vrou het hom ingeskryf vir die kookprogram. “Dit was onwerklik vir my toe ek gekies is. Ek was net bekommerd oor die vyf weke wat ek van die huis en werk af moes wees. Ek het soveel gegroei as mens. Ek het ook na die terugslag met die restaurant, weer my selfvertroue as sjef en as man teruggekry. My seuntjie sal eendag sien dat mens net moet opstaan as jy geval het.”
Hy het die meeste gehou van die opdrag om Koreaanse varkdisse te maak. “Ek hou baie van Oosterse geure. Dié dag het ek net my hart uit kosgemaak, en baie vreugde gehad! Ons was so bly om die uitdaging te gewen het. Dis belangrik vir my om nie net die maag vol te maak nie, maar ook die hart.”
Toekomsplanne
Die beste kokkedoor wil sy wengeld gebruik om die restaurantskuld te delg, en daarvan vir sy seuntjie te belê. Binne ’n paar maande wil die gesin hulle knus huis op Astonbaai verruil vir die wynlande. “Ek wil graag as ambassadeur werk by bv. ’n wynplaas. Planne is al in ’n gevordere stadium.”
Gunstelinge
“My ma se vetkoek en mince is die heel lekkerste iets op aarde, om saam met familie te eet.”
Hy geniet dit meeste om huiskos te maak soos Coq au vin (hoender in wyn gaargemaak) en boeuf bourguignon (beesvleis in rooiwyn). “Dis eintlik armmanskos wat gedeel moet word. Hulle kook eenvoudig en geld het nie ’n invloed op hulle nie.
Wenke uit die kombuis
Gert sê ’n mens kan heerlike kos maak sonder ’n vuur, met die as wat uitgebrand het, bv. aspatat an askoek. “Dis smullekker met suurroom en appelkooskonfyt.”
Hy sê as jy nie self van ’n sekere kossoort hou nie, moet dit dan nie bedien nie. En dan die belangrikste: “99% van jou probleme gaan oor ’n jaar geen invloed op jou lewe hê nie!”