ST. Francisbaai is bekend vir tjokkabote, imposante grasdakhuise, branderplankry en plaaslike calamari.
Maar dit is nie al waaroor hierdie kusdorp buite Jeffreysbaai gaan nie.
Híér kan boetiekbier-fynproewers, en diegene wat steeds wik en weeg or die unieke smaak van dié bier, van Suid-Afrika se beste brousels by St Francis Brewing Co in die hartjie van St. Francisbaai beproef.
Die vyf verskillende biere – die breinkind van meesterbrouer en eienaar Lance Kabot – word in proeglasies bedien.
Vanwaar die liefde vir boetiekbier?
Lance glimlag: “Hoewel ek nog altyd my eie bier wou brou, het die lewenslange droom eers ’n werklikheid geword nadat ek my nek tydens ’n branderplankry-ongeluk in Desember 2012 by Seal Point gebreek het.
“Vasgekluister aan ’n hospitaalbed vir twee maande, het ek besef ek moet doen wat ek die meeste geniet: om my eie bier te maak.”
St Francis Brewing Co is gebore.
“Die bestanddele – gars, hops en water – wat in ons bier gaan, word noukeurig gekies om die suiwer smaak van ons boetiekbier te ver-seker.”
Hul verskeie toekennings getuig hiervan: Kromme River Witbier (wenbier tydens die 2018 South Africa National Beer Trophy Awards), Blonde Light (silwer medalje) en Storm Warning (silwer medalje).
Dan is dit tyd vir proe.
Meer oor die biere
Met ons besoek aan die brouery, sit die kelnerin vyf biere in proeglasies aan ons voor: Beach Blonde Light, Kromme River Witbier, Lighthouse Ale, Wildside Session Ipa en Storm Warning Stout.
Ons bekyk die kleur van elke bier – bepaal deur die tipe mout wat gebruik word.
Dan is dit tyd vir snuif.
Mede-eienaar Linky Kabot gee raad: “Moenie jou bier skommel nie. Dit kan die gas en kop beïnvloed. ’n Ligte swaai van jou hand is genoeg.
“Let op die mout-, hops- en gisgeure wanneer julle dit inasem.”
En uitendelik, proe. En beslis nie uitspoeg nie – die nasmaak is baie belangrik.
Die Beach Blonde Light, vernoem na die pragtige meisies op die strand, is ’n ligte, natuurlike en verfrissende bier – ’n goeie opsie as jy ’n beginner-boetiekdrinker is.
Dit het nie ’n sterk smaak nie, maar eerder geurige nuanses.
Tweede op die bier-spyskaart is die bekroonde topbier, Kromme River Witbier.
Linky sê: “Gemaak van sitrusstroop, is dit ’n helder, romerige koringbier.”
Selfs die Lighthouse Ale, met sy karamelafwerking, en Wildside Session IPA is lekker.
Met die Storm Warning Stout kry jy die perfekte, donker hawermeel stout met ’n romerige afwerking.
“Dit is die perfek bier vir ’n koue wintersdag,” sé Linky.
Meer as bier
Behalwe vir die boetiekbier, is daar Apple Cider, Berry Cider, Bloedlemoen Gin & Tonic, Grapefruit Gin & Tonic en Krom Crush (Kromme River Witbier met kersielikeur) in proeglasies beskikbaar.