’n Bielie van ’n gat op ’n sypaadjie in Wavecrest laat inwoners en motoriste rooi sien.
Die gat, van sowat 2 meter in deursnee, is sedert verlede jaar op die hoek van Noorsekloofweg en Magnoliasingel nadat die Kouga-munisipaliteit ’n gebarste waterpyp herstel het.
“Die gat is reg in die middel van die sypaadjie en net so gelos,” sê ’n inwoner wat die probleem al herhaaldelik by die munisipaliteit rapporteer het.
“Jy kan jou motor in die gat wegsteek. En as jou hond of familielid dalk vermis raak, mag hulle dalk in die gat wees.”
Sy is egter bekommerd, omdat die sypaadjie na meer as ’n jaar nog nie beveilig is nie
Volgens haar was daar vir etlike maande geen afspering of iets wat mense teen die reuse gat waarsku nie.
“Later is wit-en-rooi versperringslint aangebring, maar die het sedertdien in die gat verdwyn.”
“Ons klagtes val eenvoudig op dowe ore,” sê sy.
Kouga Infrastruktuur en Ingenieurswese Portefeulje Raadslid Freddy Campher, sê: “Ons vra opreg om verskoning aan inwoners en motoriste vir die wag.
“Die gat moet nie bloot toegegooi word nie. Daar moet ’n stormwater-vangpunt gebou word en daar was ’n oponthoud in die aan-koop van die nodige boumateriaal.
“Die boumateriaal het sedertdien opge-daag. Die span wat die bouwerk moet doen, is net tans besig om werk in Astonbaai te voltooi voor hulle met die Noorsekloof-projek kan begin.
“Ons verwag dat werk daar oor ’n week sal kan begin.”