BO: Koos (8) se ou lyf is stukkend geloop en sy pote is rou, maar laat Donderdagmiddag was hy weer ‘reg’ om sy mense-ma, Etta van der Merwe, te volg – al is dit hinkepink teen ’n slakkepas. Foto:Monique Basson


SY ou lyf is stukkend geloop en sy pote is rou, maar laat Donderdagmiddag was hy weer ‘reg’ om sy mense-ma te volg – al is dit hinkepink teen ’n slakkepas.

Dit is nou Koos van der Merwe, die geliefde – en nou ook bekende – langbeen fox terrier van Kaap St Francis, wat op Vrydag, 29 November sy pad byster geraak het.

Na ’n dertien-dae lange soektog is hy meer as 100km van sy huis op ’n plaas in Kareedouw gevind. Moeg, honger en ontwater.

Etta van der Merwe, mense-ma van Koos wat onverpoosd na haar beste lewensmaat bly soek het, glo dat iemand hom gesteel het. Volgens haar het hy in die omgewing van die Loerie-dam ontsnap, die pad tot by Gamtoos gevat en daarna tot by Kareedouw gestap.

Die seer lê vlak in haar oë: “November is ’n baie moeilike maand vir my: nie net is my man twee jaar terug in die maand oorlede nie, maar een van my katte is vroeër deur ’n muishond gebyt en is die volgende dag dood.”

Koos en Dolf, ook ’n vierpoot-fami-lielid, is die Vrydagoggend saam met Van der Merwe na St. Francisbaai waar hulle vir haar in die bakkie gewag het terwyl sy vinnig ’n internet-kafee besoek het.

Die venster was halfoop.

Met haar terugkeer, het Dolf die omgewing rondom die voertuig ver-ken, maar Koos was skoonveld.

Sy het dadelik onraad vermoed: “Koos is ’n bang hond en het nog nooit voorheen op sy eie die bakkie verlaat nie.”

Die groot soektog het dadelik begin.

“Ek het tussen al wat leef hier rondgery en foto’s gewys en belonings aangebied, maar Koos het spoorloos verdwyn,” sê Van der Merwe.

Later is die hulp van Susan Rae Fox van St Francis Animal Rescue ingeroep. Sy het die boodskap binne minute op sosiale media geplaas, waarna die hulpkreet soos ’n veldbrand versprei het.

Koos is vier dae later in Loerie gewaar, maar pogings om hom te vang, was onsuksesvol.

Op 6 September het hy sy opwagting op die plaas van Justin Moolman in Gamtoos gemaak, maar hy het weereens sy redders ontduik. Híér het hy tussen neus en ore verdwyn.

Nie eers ’n vier-dae lange soektog met ’n hommel deur John Dyer en sy seun, Sean, van Ajubatus Foundation – ’n nie-winsgewende organisasie in Amerika met ’n kantoor in Jeffreysbaai – kon Koos opspoor nie.

Maar verlede Donderdagmiddag, omstreeks 16:00, het Van der Merwe – in sak en as, gereed om moed op te gee – die ‘wonderwerk’-oproep gekry: Koos is in Kareedouw gevind.

Kareedouw-inwoner Ryno Carelson en sy twee dogters het op sosiale media gesien dat Koos op ’n naburige plaas is en het dadelik in hul voertuig gespring en hom gaan soek – na hulle vir Van der Merwe gebel het.

Hulle het hom binne ’n japtrap aangekeer en met sy mense-maat her-enig. “Koos was so bly om my te sien,” sê ’n dankbare Van der Merwe. “Hy het my dadelik in my gesig gelek, iets wat hy nooit doen nie. Hy is al agt jaar oud en is deur ’n kwaai beproewing.

“My innige dank aan elkeen wat met die soektog gehelp het – hetsy jy op en af in die strate gery of geloop het, ’n boodskap gestuur het of gebid het.

“Dit was ’n hartroerende ervaring om te sien hoeveel mense omgee, dat hulle ’n hart vir ’n vreemdeling het.”

You need to be Logged In to leave a comment.