Terwyl die Seekoeiriviermond toe is, heers gevaarlike bestuurstoestande op die brug wat oor dié rivier strek tussen Paradysstrand en Astonbaai, weens die brug wat oorspoel tydens sterk wind. Foto: Verskaf


DIE Kouga-munisipaliteit sê inwoners mag nie sonder die nodige omgewingsmagtiging die Seekoeiriviermond oopmaak nie.

Inwoners van Paradysstrand, net duskant Jeffreysbaai, dreig om self in te spring, omdat die brug tussen Astonbaai en Paradysstrand – wat oor die Seekoeirivier strek – se ryvlak tans gereeld oorspoel.

Die riviermond is al sowat ’n maand lank toe. Die brug wat oorspoel is ’n probleem wat herhaaldelik voorkom wanneer die riviermond toe is.

Met tye wat die brug oorspoel, word inwoners van Paradysstrand gedwing om die alternatiewe grondpad tot by die R102 te neem.

Die finale onderhoudswerk is tans aan die gang op dié grondpad, maar het verlede week inwoners soos kluisenaars laat voel toe die grondpad tydelik vir verkeer gesluit én die brug terselfdertyd oorspoel was.

Riaan Kolesky, voorsitter van die Paradise Beach Watch wat die buurtwag en belastingbetalersforum insluit, sê die grondpad is tans weer oop.

“(Die brug tussen Paradysstrand en Astonbaai) word op ’n gewone werksdag sowat 2 900 keer gebruik.

“Dit is ’n geweldige groot bekommernis dat die riviermond nie oopgemaak word nie en het ’n groot impak op die inwoners.”

Boonop hou dit ook ’n bedreiging vir die vislewe in. Hy sê met ’n vorige keer wat die riviermond vir ’n lang tyd toe was, het die sout-telling van die water die hoogte ingeskiet, wat visse op ’n streep laat vrek het. Ook die riviergarnale het uitgesterf.

“Die dooie visse is in vraghouers daar weggeneem. Die vis en garnale is weer hervestig, maar ons sal ’n herhaling sien van die vrektes as daar nie dringend ingegryp word nie.”

Die Kouga-munisipaliteit sê hy het ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) ’n tussentydse aansoek by die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme ingedien rakende die oopmaak van die riviermond.

Die munisipaliteit sê hy het reeds in 2023 begin met die hersiening van sy bestuursplan vir die Seekoeiriviermond- en duin-instandhouding, wat deur die departement goedgekeur moet word voor die munisipaliteit die riviermonding kan oopmaak. Die finale verslag is intussen by die departement ingehandig vir ’n besluit.

As deel van die munisipaliteit se voorgestelde plan aan die departement, word ’n bykomende deurlaatkanaal onder die brug beplan, asook die opgradering en herposisionering van die bestaande deurlaatkanale.

You need to be Logged In to leave a comment.