loulita en james vosloo
Loulita Vosloo en haar man James Vosloo. Foto: Verskaf

JEFFREYSBAAI – Sy het ‘n kankerdiagnose met positiwiteit benader. Sy het haar juweliersware oor die aardbol heen verkoop.

Sy was ‘n forensiese ondersoeker in die polisie en het boonop die wêreld oor gereis en gewerk. Sy is die steunpilaar en woema agter Jeffreysbaai se Dorp van Drome!

Vandeesweek plaas ons die Kollig op een van die Kouga-area se blinkste sierade … Loulita Kruger-Vosloo.

Loulita droom in groen … steur haar nie aan beperkende werksure nie en leef haar passie met oorgawe uit.

Loulita is op 2 Mei 1967 op Umtata gebore. In 1974 verhuis sy saam met haar ouers Lettie en Gert Kruger na Jeffreysbaai.

By die Laerskool Jeffreysbaai en Hoërskool Nico Malan op Humansdorp, was sy ‘n knap tennisspeler en was die twee skole die spil waarom haar grootwordjare gedraai het.

Sy het na skool in Gqeberha met juweliersware by ‘n bekende winkelgroep gaan werk. Op ‘n dag hoor sy van ‘n skakelbordpos by die Jeffreysbaai Munisipaliteit waar sy vir 7 jaar lank die vriendelike stem was.

Haar wanderlust lok haar egter oorsee en die reisgogga bly in haar bloed. Loulita het na skool ook haar kreatiewe kant begin uitleef, met die maak van leer-armbandjies wat sy met verf versier het.

Kort voor lank was haar handewerk in Tramps Boetiek en in al Cheron Kraak se bekende branderplank- en klerewinkels.

Toe skakel sy oor na die maak van gekleurde leerknope. Die sukses hiermee, draai tot in Covent Garden waar haar werk deur Buttons for Africa bemark word.

Hierdie verdienste stel haar in staat om aan die Ruth Prowse School of Art in Kaapstad in Juweliersontwerp te gaan studeer.

Voordat sy met haar jeugliefde trou, gaan werk sy in Engeland op Henley-on-Thames en in Edinburgh, Skotland.

Later volg ‘n werk by ‘n Franse Restaurant in Israel. Dit is hoeka daar in La Cocile, waar ‘n vurige bewonderaar haar probeer oortuig het dat hy vir haar die wêreld kan bied.

Sy ontvlug sy harem deur op die eerste ferryboot na Griekeland te ontsnap!

loulita en james vosloo
Loulita Vosloo en haar man James Vosloo. Foto: Verskaf

Haar James wat in die bankwese gewerk het, het sy rondvlogende duifie dadelik gering. Die paartjie het op verskeie dorpie in die Noorde gewoon, voordat hulle met hul seun Armin, na Jeffreysbaai teruggekeer het.

Loulita het voorheen vir 19 jaar lank vir die SAPD in hul Forensiese-en Vingerdrukafdeling gewerk.

Dit is hier waar sy diepe empatie vir oortreders en die mindere in ‘n gemeenskap begin ontwikkel het.

Hul terugkeer na Jeffreysbaai was vir Loulita soos ‘n hartlike tuiskoms.

En dit was destyds kort na Armin se geboorte, dat Loulita op 30-jarige ouderdom met ovariële kanker gediagnoseer is.

Tydens haar agtmaandelange chemo-behandeling, het sy bykans geen newe-effekte gehad nie. Sy glo dat haar positiewe ingesteldheid baie tot haar herstel bygedra het en dat sy nou al reeds agt jaar in remissie is.

Tydens Covid-grendeltyd het Loulita daaraan begin dink om die BB Keet-begraafplaas skoon te maak en op te knap. So maak sy toe na haar aftrede kennis met Jeffreysbaai se Groenvingerkommando en sluit sy by Die Dorp van Drome aan.

Self was sy nooit ‘n kranige tuinier nie, maar harde werk was vir haar nog altyd terapeuties.

Dorp van Drome word vinnig haar passie en haar liefde vir blomme, snelgroeiende struike en bome, verander Jeffreysbaai in ‘n lushof.

As die voorvatter by DVD, sien sy daarna uit dat inwoners meer aandag aan die parke en hul eie tuine moet skenk.

Op watter groot projekte fokus DVD tans?

“Zoetelieftuin in Seetuinstraat word tans gedeeltelik as ‘n kwekery gebruik. Ons probeer heelwat moederplante hier vestig. Ons het ook onlangs ‘n kwekery in Humansdorp begin en die Humansdorp Koöp help ons hiermee.

Die Kouga Munisipaliteit vorm deel van die Nasionale Vyfmiljoenbomeprojek. Hoe presteer DVD in hierdie opsig?

“Ons kan met groot trots bekendmaak dat ons die afgelope vier jaar reeds meer as 5,000 bome in samewerking met KM aangeplant het. Ons is ook opgewonde oor gereelde en groot skenkings deur Moorlands naby Thornhill.”

Hoe benader DVD die summiere afkap van bome in die Kouga-area?

“Geen boom mag afgekap word sonder die toestemming van KM nie. As daar enige bome op ‘n leë erf groei waar daar gebou gaan word, mag sulke bome ook nie verwyder word sonder die KM se toestemming nie. En uitheemse bome mag ook nie afgekap word alvorens daar nie ‘n inheemse boom daarnaas geplant word nie en dit moet ook eers goed gevestig word.”

Daar was groot ontevredenhede omdat talle bloekombome op die dorp afgekap is. Wat was die aanloop tot hierdie besluit?

“Die Bosluisvoëls (Egrette) se mis het groot gesondheidsprobleme veroorsaak. En afgesien van die onuithoubare stank, was die bome ook op plekke waar daar digte voetgangerverkeer is. Ons moes gereeld die brandweer inroep om sypaadjies skoon te spuit en die neste ook so te verwyder.

“Ons bly in ‘n waterskaars-omgewing en daar was ‘n alternatiewe oplossing deurdat daar tydens broeityd konstant teen die bome se stamme gekap moes word aangesien die trillings die voëls sou verjaag. Die voorstel was egter nie prakties uitvoerbaar nie aangesien daar letterlik tientalle mense in groepe hiervoor gewerf sou moes word.”

Wat sou Loulita vanjaar in haar kerskous wou gehad het?

“Vir seker ‘n waterlorrie! Ja, sonder twyfel ‘n waterlorrie, al is dit ‘n derdehandse een! Dit help nie ons hou aan met plant en ons kan nie die plante natlei nie… Waterskaarste en ‘n gebrek aan volhouding sal maak dat alles in ons dorp binne agt weke verdor en verlore gaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article