Sy het geglo dat sy skaars ‘n stokmannetjie kon teken.
En op 60-jarige ouderdom ontdek die oud-Oos-Kapenaar, Sarina van der Watt, toe die teendeel.
Vir Sarina was die grendeltyd en die verhuising na ‘n nuwe land, die seisoen van nuwe ontdekkings.
Die oud-Humansdorper het vanuit Toowoomba Australië met Kouga Express gesels oor hoe sy haarself eintlik verras het oor haar nuutgevonde pad as kunstenares.
Sarina (wie se nooiensvan Kriegler is) was ‘n leerder aan die Laerskool Stulting op Humansdorp en dis hier waar sy haar man Mikie, wie die hoofseun was, ontmoet het.
Die twee was dwarsdeur hul hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Nico Malan gekys.
Engels was haar gunsteling skoolvak en sy het ekstra gewig in die vak gesit omdat sy gek was oor die onnie “Miss Jane” Geldenhuys.
Sarina sê dat sy min kon weet dat haar voorliefde vir Engels haar baie jare later, baie goed te staan sou kom.
Na matriek het Sarina by ‘n prokureursfirma op die dorp begin werk. Hierna het sy en Mikie (na hul troue) op St Albans gaan woon, waar hulle hul drie kinders grootgemaak het.
Mikie het later besluit om by sy broer Johan se ingenieursfirma in George aan te sluit. Johan was toevallig ook in 1970 hoofseun van die Hoërskool Nico Malan.
Die twee plaasseuns van Melon in die Gamtoosvallei, se onderneming in die Suid-Kaap het met rasse skrede vooruitgegaan.
Sarina, Mikie en hul jongste dogter Maike het in 2004 saam met Johan en sy gesin na die VSA verhuis.
In 2011 het hulle na Australië verhuis waar Mikie ‘n pos by ‘n groot ingenieursfirma gekry het.
Hul oudste kind, Junior en hul ander dogter Allouise het daarna by hulle aangesluit.
Sarina vertel dat hul verhuising na Australië dikwels gepaard gegaan het met diepe heimwee en verlange na Suid-Afrika.
En dit is juis toe, gedurende die aanslag van Covid, dat sy uit verveling begin teken het.
Eers versigtig en vol onsekerheid. Later het haar selfvertroue met elke kwashaal begin toeneem.
Aanlyn kunsklasse het haar aanvanklik baie gehelp.
Sy het kort voor lank besef dat haar gesin se reaksie op haar skilderwerk so gunstig was, dat sy by ‘n groep plaaslike kunstenaars aangesluit het.
En dit is hier waar haar nuwe stokperdjie tot sy reg begin kom het. Sarina het spoedig begin deelneem aan groepuitstallings.
Die gebruik in Toowoomba is dat kunstenaars hul werk in openbare ruimtes soos poskantore en winkelsentrums mag uitstal.
Haar eerste verkope het haar destyds opnuut met groot entoesiasme laat skilder.
Deesdae is dit glad nie ongewoon vir Sarina om ‘n hele paar skilderye in die bestek van ‘n kort tydjie te verkoop nie.
Sy het so opgang gemaak dat sy kort voor lank ‘n lewenslange lid van ‘n Australiese Kunsakademie geword het.
Sarina vertel dat sy ‘n natuurlike flair vir olieverf as skildermedium het.
“Dalk omdat ek my foute dan so effens kan verskans en of reg verf!”
Sy is ‘n entoesiastiese lid van die Backroad Artist Group wat intussen ook ontaard het in ‘n gesellige kuiergroep!
Sarina sê haar werk word baie deur die Ou Meesters beïnvloed, maar dat sy veral ‘n voorliefde vir Edward Seago se werke het.
Sy geniet dit om portretstudies te doen, maar sy het ook ‘n voorliefde vir landskappe en stillewes.
Sarina en Mikie se laerskoolkys op Humansdorp, het onlangs gekulmineer in ‘n 46-jarige huweliksherdenking.

Hulle woon deesdae op Greenmont, ‘n klein plattelandse dorpie sowat 20 minute se ry van Toowoomba af.
Al hul kinders woon ook in Australië. Junior werk tans as Menslike Hulpbronbestuurder by Savanna Energy Services en sy vrou Jenica, is ‘n kleuterskoolonderwyseres. Hulle het twee dogtertjies en woon twee strate ver van Sarina hulle af.
Allouise, hul middelkind, het haar Aussieman in Engeland ontmoet toe hulle albei daar gewerk het. Sy is ‘n klas-assistant by ‘n Christelike skool terwyl haar man Robert ‘n Industriële Chemikus by die Callide Kragstasie is. Hulle woon met hul twee seuntjies in Biloela.
Kleinsus Maike is ook met ‘n Aussie getroud. Sy en Darren woon op Cambooya waar Maike by ‘n privaathospitaal werk en Darren die bestuurder van ‘n Aldi Supermark is. Hulle het ‘n seun en ‘n dogter.
Sy verlang soms na haar dae as liga-tennispeler in Suid-Afrika, maar sy is steeds baie fiks en ‘n mededingende “pickle ball”-speler.
Hierbewens geniet sy en Mikie kuiers saam met hul kinders en kleinkinders en natuurlik roep die palet en doek haar gereeld om opdragwerke te voltooi!
Sarina en Mikie kuier graag naweke saam met hul kinders en hul ses kleinkinders.
Hierdie Kouga-kind het voorwaar bewys dat ‘n voller lewe wel eers op 60-jarige ouderdom kan begin!






You must be logged in to post a comment.