Jeffreysbaai-toerisme, in samewerking met die Melkprodusente-organi-sasie (MPO) Oos-Kaap, is op soek na Kouga se melktert-kampioen. Anri Wolmarans (MPO Oos-Kaap streekbestuurder) en Estelle de Beer (Jeffreysbaai-toerisme) maak gereed om hul melktert-kennis op die proef te stel.

Foto: Verskaf

Jeffreysbaai-toerisme, in samewerking met die Melkprodu-sente-organisasie (MPO) Oos- Kaap, is op soek na Kouga se melktert-kampioen.

Enigiemand kan inskryf – hetsy jy ’n restaurant-eienaar is, ’n deli besit of ’n privaatbakker is. Solank jy net ’n heerlike melktert kan bak.

Volgens MPO Oos-Kaap streekbestuurder, Anri Wolmarans, kan dit ’n tradisionele melktert wees, of dit kan ’n kinkel of twee bevat.

“Gee die geliefkoosde bederf so bietjie skop met Amarula, of vervang die skilferkors met panne-koek,” sê sy. “Of dalk ’n karamel-koekiekors. En wat van ’n sjokolade-kinkel?

“Die opsies is eindeloos.

“Die enigste reël is dat dit ’n melktert moet bly.”

Volgens Wolmarans is die kompetisie ter viering van Nasionale Melktertdag op Sondag, 27 Februarie asook ter ondersteuning van die plaaslike melkindustrie.

Beoordeling vind plaas om 09:00 op Maandag, 28 Februarie by Mentorskraal-skuur in Jeffreysbaai.

Die melktert-kampioen stap weg met ’n heerlike geskenkpak van Woodlands Dairy in Humansdorp, asook twee nagte se verblyf vir vier by Sheashells Gastehuis in Jeffreysbaai en ’n onvergeetlike uitstappie vir vier na ’n pragtige melkplaas in Kouga.

Inskrywings sluit om 17:00 op Sondag, 20 Februarie.

  • Vir meer inligting of inskrywingsvorms, skakel die Jeffreysbaai-toerismekantoor by 064 966 9933.

You need to be Logged In to leave a comment.