DIE pragtige kusdorp Jeffreysbaai is lankal nie meer net ’n mekka vir branderplankryers en bruingebrande klonge met lang hare of persone wat in vrede daar wil aftree nie.
Kunstenaars het die afgelope jare self hulle stempel op die dorpie afgedruk, gevestigde professionele kunstenaars sowel as diegene wat nog altyd daarvan gedroom het om hulle talente in dié rigting te ontwikkel.
Dit getal kunstenaars het soveel toegeneem dat ’n paar persone wat die dorp of eintlik hele Kouga-distrik se kunste op die hart dra, besluit het om ’n kunsvereniging te stig om aan die kunstenaars se behoeftes na die beste van hulle vermoë te probeer omsien.
In 2020, net voor die pandemie sy wrede kloue in die wêreld ingeslaan het, is die Kouga-kunsvereniging met Mike Jansen as die bestuurder daarvan, gestig.
Jansen is al ’n groot deel van sy lewe betrokke by die kunswêreld en met ’n kop vir besigheid, rekenaartegnologie en finansiële be- stuur verseker hy dat dié vereniging se sake glad sal verloop.
Hy word bygestaan deur verskeie kundiges en een daarvan is Petra Stiglingh, ’n welbe-kende kunstenaar en eienaar van die Petra Stiglingh-kunsgalery op die dorp.
Stiglingh is die tesourier van die vereniging maar skilder self ook al die afgelope 57 jaar en het al verskeie kunsslypskole in Suid-Afrika en Namibië en solo-kunsuitstallings in Suid-Afrika, Engeland en Kanada aangebied.
In samewerking met Agnesse Scott, sekretaresse van die vereniging en Hannelé Viljoen wat na die regaspekte daarvan omsien, word die vereniging met sorg bestuur.
Verskeie plaaslike kunstenaars soos Stephen Bibb, Cryselda Venter, Gideon Porter, Marietjie van Niekerk, Margaret Tuck, Leatitia Steyn, Dave Rossouw, Carol Janse van Vuuren, Heilna du Plooy, Liezel de Lange, Sue de Beer, Luan Cloete en Sonya Burger het reeds by die vereniging aangesluit.
“Dis natuurlik in meeste kunstenaars se aard om so bietjie eenkant te wees en gewoonlik is dié interessante spesie nie altyd gretig om verenigings en so te join nie, maar ek dink dit sal mettertyd verbeter, veral omdat ons ’n klein gemeenskap is, en mekaar graag ondersteun,” sê Stephen Bibb, plaaslike kunstenaar en komiteelid van die vereniging.
“Dit is verskriklik moeilik vir enige persoon veral ook vir kunstenaars om in die tye te oorleef, daarom kan die kunsvereniging werklik van waarde wees sover dit blootstelling aanbetref.
“Vir my was dié tyd gewis nie ’n walk in the park nie, en ek is maar te dankbaar dat ek nog leef, gelukkig het ek kliënte buite Jeffreysbaai en doen ek illustrasies vir oorsese kliënte!”
Al het die pandemie veroorsaak dat die vereniging nie ten volle kon floreer nie sit hulle nou behoorlik skouer aan die wiel.
“Ons doel is om ’n platform vir kunstenaars aan te bied waar hulle nie net ’n kans sal kan kry om hulle werk aan die publiek bekend te stel nie, maar waar hulle ook meer vaardighede sal kan aanleer en raad ontvang sou dit nodig wees,” sê Petra Stig-lingh.
Maar dis nie net die Kouga-kunsvereniging wat alles in hulle vermoë doen om kunstenaars in die omgewing by te staan nie.
“Die kunstenaars word ondersteun deur verskillende entiteite wat hulle ten doel stel om nuwe lewe in die kunsgemeenskap te blaas,” sê Stiglingh.
“Die Kouga-vereniging in samewerking met Palette Art wat al 21 jaar bestaan en aan verskeie kunstenaars in die omgewing behoort en my galery, die Petra Stiglingh-galery wat in 2015 sy deure geopen het, sal ons kunsopvoeding verskaf en soveel moontlik kunstenaars daarby betrek.
“By Palette Art waarvan die plaaslike kunstenaar Dave Rossouw die langste reeds lid van is, word daagliks klasse in water- en akrielverf en journaling deur Liezel de Lange aangebied en op ’n Woensdag is daar ’n Paint-along waar almal kan saam verf wat gewoonlik groot pret is.”
In die Petra Stiglingh-galerye kan besoe-kers Stiglingh se eie kunswerke asook die van verskeie ander professionele kunstenaars soos Esté Mostert, Johan Coetzee, Kobus Hanli, Isabel le Roux, Frans Claerhout, Anton Benzon, Anton Pienaar en Attanacio Mupanganye besigtig.
Kunstenaars hoef ook nie na een van die groter stede te reis om gehalte produkte vir hulle kunsprojekte aan te koop nie.
Daar word verskillende soort hoë gehalte verf, potlode, penne, kwaste, papier en kunsboeke sommer by die Petra Stiglingh-kunsgalery in die Fountains-inkopiesentrum te koop aangebied.
Gedurende die langnaweek van 24 tot 26 September 2021 word Part Of The Heritage – Celebrations At The Mall ’n groep-kunsuitstalling in die ou Teater (Old Cinema) in die Fountains-inkopiesentrum in Jeffreysbaai aangebied.
Kunswerke van lede van die vereniging sowel as nie-lede (enige kunstenaar uit die Kouga-distrik) sal uitgestal word.
Skakel Petra Stiglingh by 072 388 8738 om aan die uitstalling deel te neem of vir meer inligting daaroor.
Besoek die Kouga-kunsvereniging by www.kougaartsociety.co.za en Palette Art by 083 395 6163 vir inligting.