Kruisfontein United Rugby Klub is nou eerste op die punteleer in hul afdeling. Foto: VERSKAF


KRUISFONTEIN United het Progress Rugbyklub, die verdedigende kampioene asook die OP Superliga kampioene, gestuit in hul pad na ’n rekord van 20 onoorwonne wedstryde.

Die wedstryd is by Kruisfontein-sportkomplek beslis en die eindtelling was 26-21 in Kruisfontein United se guns. Dié span is nou eerste op die punteleer in hul afdeling.

Dit was ’n titaniese stryd wat goed ondersteun is deur honderde toeskouers van so ver as Alexandria, Kariega, Gqeberha, Tsitsikamma en selfs die Wes-Kaap.

Volgens Kruisfontein United se afrigter en spelers word elke wedstryd opgedra aan hul ontslape speler, Fazel Primo, wie in November verlede jaar oorlede is.

Jaques Alexander, vise-president van die klub het gesê, “Ons spelers is uniek, gefokus en gedissiplineerd en word aangemoedig met prestasie bonusse vir elke vlak wat hule bereik. Ons het ook in elke wedstryd ’n speler van die wedstryd wat deur die afrigters aangewys word.”

Die speler van Saterdag se wedstryd was Danny Benjamin en hy het prysgeld van R500 daarvoor ontvang.

“Kruisfontein United se bestuur en spelers wil al ons ondersteuners en borge bedank vir hulle gereelde ondersteuning.

“Ons hoop ook om meer individue sowel as besighede as borge te kry.. Graag bedank ons Barry’s transport, LK Steelfixers en CM Pharmacies vir hulle ondersteuning en bydraes tot die klub en spelers,” het Alexander bygevoeg.

Die klub se volgende wedstryd is weg van die huis af teen Old Selbornians van Oos-Londen op 25 Februarie en Kruisfontein United beoog om die maksimum punte uit hierdie wedstryd te kry.

  • Vir meer inligting oor die klub, stuur ’n epos na kruisfonteinunitedrfc@gmail.com, kontak Calvin Zietsman op 064 026 9531 of Jaques Alexander op 062 286 2604.

– UITGEREIK DEUR KRUISFONTEIN UNITED

You need to be Logged In to leave a comment.