Kunstenaar en illustreerder Stanley Grootboom saam met ouma Katriena Esau, die enigste oorlewende persoon wat die San-taal N/uu vlot kan praat. Sy het ook die boek geskryf. Foto:VERSKAF

Toe hy as kind die Tsitsikamma-woud verken en voëltjies en ander vorms in dryfhout wat hy versamel, begin kerf het, het hy reeds geweet dat kuns eendag ’n groot deel van sy lewe sou word.

Vandag ’n groot naam in die kunsbedryf met van sy werke wat in gallerye regoor die wêreld uitgestal word, wil Tsitsikamma en Knysna kunstenaar en illustreerder, Stanley Grootboom, terugploeg in sy geboorteprovinsie, die Oos-Kaap.

Grootboom, oorspronklik van Coldstream, sal eersdaags die eerste inheemse storieboek wat in die San-taal N/uu ge-skryf is, aan ’n paar skole in dié provinsie skenk, insluitend ’n paar in die Kouga-distrik.

Die boek, getiteld, !Qhoi nla Tjhoi (Skilpad en Volstruis) is geskryf deur Katriena Esau, of-tewel ouma Katriena, blykbaar die enigste oorlewende persoon wat nog die taal vlot kan praat. Die boek is ook in Afrikaans en Engels vertaal.

“Ek wil graag dié boek aan skole en sentrums skenk omdat ek hiermee my deel wil doen om inheemse kuns en tale te bevorder,” het Grootboom, wat die illustrasies vir die boek gedoen het, gesê.

Hy het besluit om die boek aan die St. Patricks Primêre Skool in Humansdorp en Coldstream Primêre Skool in Tsitsikamma te skenk.

“My kuns gee vir my ’n gevoel van geluk en soms hart-seer, afhangende van die onderwerp. Dit is ’n manier vir my om myself uit te druk en dit be-vorder die gevoel van kreatiwi-teit en inspirasie. Dit laat my toe om my emosies en ondervindings met ander te deel en hou my gebind aan myself en die wêreld,” het hy bygevoeg.

Op die vraag oor hoe hy by die illustrasie van hierdie ge-skiedkundige boek betrokke geraak het, het Grootboom geantwoord dat hy vroeër vanjaar deur die uitvoerende direkteur van Puku Books in Johannesburg, Dr Elinor Sisulu, genader is.

“Sy het gesê dat sy my kontak in verband met illustrasies vir die eerste veeltalige storieboek in N/uu. My inspirasie vir die illustrasies het gekom as gevolg van my sterk belangstelling in ons inheemse kulture. Dit maak ’n baie belangrike deel uit van my onderwerpe as ’n kunstenaar,” het hy verduidelik.

Hierdie is nie die eerste inheemse boek waarby Grootboom betrokke was nie. Nadat hy in 1997 grotte in die Tsitsi-kamma-woud begin besoek het om meer te leer oor die eerste bewoners in dié gebied, het hy hulle rotskuns versigtig bestudeer en in sy kuns bygewerk.

Hy het die eerste inheemse inkleurboek voortgebring, met rotskunsprente van die Tsitsi-kamma en die storieboek, Khoiland Maatjies.

Grootboom meen dat hierdie boek net voordele vir kinders kan inhou.

“Die boek sal kinders aan ’n inheemse taal wat met uitwis-sing gekonfronteer word, blootstel. Dit sal terselfdertyd leerders help met lees- en taalvaar-dighede,” het hy gesê.

“Die bevordering van ons inheemse kulture vorm deel van my kunsonderwerp en dit gee my ’n goeie gevoel dat ek deel kon wees van hierdie geskiedkundige projek, veral aange- sien ouma Katriena Esau die laaste vlotspreker van die San-taal N/uu is.

“Gelukkig leer sy die taal aan andere en ek sien dit as my plig as ’n afstammeling van die inheemse mense van hierdie land, om ons inheemse taal te behou.”

You need to be Logged In to leave a comment.