‘Globe Chair’ ’n tekstiel- en veselkunswerk met optelgoed deur Maryna Joubert. Foto: Verskaf


TYDENS ’n opwipuitstalling, On the West Side wat spesiaal in Jeffreysbaai gedurende die vakansie aangebied word, kan die insiggewende werk van die kunstenaar Maryna Joubert besigtig word. Met dié uitstalling wil sy mense herinner aan die verganklikheid van die omgewing asook om verantwoordelikheid vir die bewaring daarvan te aanvaar.

“Die nuwe uitstalling is egter net ’n klein element van ’n veel groter versameling werke waarop ek sedert 2012 fokus,” verduidelik Joubert. “Daar is ’n ineengeweefde kompleksiteit van hoe ons as mens op aarde lewe en die effek wat ons leefwyse op die omgewing het; al die werke verbeeld dit.”

Joubert skep ook graag digitale kunswerke.

“Nie era gebonde nie, maar dit help my ook met my eie benadering tot die lewe. Ek is boonop intens bewus van die maak van kuns-media en hoe dit verantwoordelik aangekoop en toegepas moet word. Om die rede is ek konstant besig om rommel, veral plastiek wat op die strand uitspoel op te tel en dit dan vir my kunswerke te gebruik.”

“Daar is ’n groot teenstelling tussen die digitale interpretasies van my kuns en tasbare handwerk-stukke soos hekel-, brei- en naaldwerk wat ek herwin en dan omskakel in tekstielkuns. Handewerk was kunswerke in eie reg wat eens van waarde was.” Sy put ook inspirasie uit mede-kunstenaars se kunswerke uit optelgoed soos die van Moffat Takadiwa van Zimbabwe wat enorme kunswerke daaruit skep.”

On the West Side kan tot 24 Januarie 2025 by Palette-kunsgalery en -ateljee in Jakarandastraat 14 op Jeffreysbaai besigtig word. Die galery sal op publieke vakansiedae gesluit wees.

Bel Maryna Joubert by 083 381 6595 of stuur epos aan ryns1955@gmail.com vir meer inligting oor haar werk.

You need to be Logged In to leave a comment.