KYK: Humansdorp se Kultuursentrum aan die brand

‘n Brand het vroeg vanoggend binne die Kultuursentrum in Humansdorp ontstaan, wat groot skade aan dié sentrum gerig het.


‘n Brand het vroeg vanoggend binne die Kultuursentrum in Humansdorp ontstaan, wat groot skade aan dié sentrum gerig het.

Volgens die Kouga-munisipaliteit se burgemeester, Horatio Hendricks, het die Kouga-brandweer intussen die brand geblus.

“Hawelose mense het ‘n vuur in die sentrum begin, wat buite beheer geraak het. Niemand is in die voorval beseer nie,” het Hendricks gesê.

Die brand het rondom 05:30 vanoggend, 31 Augustus begin en ‘n kwart van die gebou is erg beskadig.

Kouga Express het vroeër berig oor die Kultuursentrum wat vervalle is en wat deur informele inwoners beset word.

LEES OOK | Vervalle Kultuursentrum – is daar nog hoop?

Joané Azenha het berig dat die gebou nie ’n enkele venster het wat heel is nie. Dié vensters wat aanvanklik pragtig versier was met Afrika-motiewe, lê nou in duisende skerwe op die grond.

Dit is nie duidelik of die binne-vloer van die gebou deur plunderaars of bloot vervallenheid uitmekaar gebreek is nie, maar talle van die vloerplanke skort en los bakstene lê oral rond.

Hendricks het aan Kouga Express gesê dat die munisipaliteit verskillende voorstelle ontvang het om die gebou op te gradeer en te herstel.

“Die Raad oorweeg tans die voorgestelde opsies en sal binnekort ’n besluit neem oor die voorstel wat verkies word,” het Hendricks gesê.

“Die aanvang van die opgradering sal eers bevestig word sodra die Raad die besluit ten opsigte van die voorgestelde voorstel geneem het.”

You need to be Logged In to leave a comment.