OUD-skoliere, afgetrede onderwy-sers, braaivleisvure en staaltjies van toeka se dae . . .
Die Laerskool Jeffreysbaai – ’n toonaangewende skool waar onderwys op professionele, voortreflike en aanpasbare wyse in Afrikaans en Engels aangebied word – hou op Saterdag, 29 Februarie ’n groot reünie ter viering van hul 100ste bestaansjaar.
Die skool het op 1 Januarie 1919 vir die eerste keer geopen. Dit volg na ’n klein skooltjie in 1913 van Sunnyside na Jeffreysbaai verplaas en ’n nuwe primêre skool op 21 November 1918 gestig is.
Die eerste skoolhoof, asook eerste onderwyser, Mej. J.E.C. Buys, het in die beginjare slegs tien leerders onder haar bekwame vlerk gehad.
Nagenoeg ses jaar later is die eerste volwaardige skoolgebou in 1924 teen ’n koste van 150 Pond opgerig. Dié gebou dien tans as die J.E.C. Buys Kle-rebank. Voor die klerebank was die gebou ’n biblioteek.
Die huidige skoolgebou is in 1980 gebou.
Alle oud-skoliere, onderwysers en belanghebbendes is welkom om die bring-en-braai by te woon.
Reünie-gangers moet hulle eie vleis en drinkgoed bring. Vure sal verskaf word.
Die feesvieringe skop om 18:00 vir 18:30 af.
Vir meer inligting, skakel Sharon van Niekerk by 042 293 1343 of besoek die Laerskool Jeffreysbaai Oudsko-liere Facebook-blad.