Langkloof skud bloeisels reg vir fees

KIKKER jou naweek op met bloeisels, appels, vermaak en hope pret.


KIKKER jou naweek op met bloeisels, appels, vermaak en hope pret.

Joubertina – waar die vrugtebome met perske-, peer-, appel- en pruimbloeisels bont aan die blom staan – verkleur reeds terwyl inwoners vere regskud vir die jaarlikse Langkloof Bloeiselfees wat vanaf 25 tot 26 Oktober plaasvind.

Feesgangers verwag niks minder nie as die talle kunsmark-stalletjies, landbou-uitstallings, speelgoed, vars groente, plaaslike kaas, sport, kindervermaak en van die land se gewildste sangers soos Juan Boucher, Demi Lee, Adam Natasha Joubert.

Die fees skop af met ’n groot boeredag wat ’n seminaar met sprekers, asook ’n interessante tentoonstelling insluit.

Vrydagmiddag gaan die Dark Water Ops besoekers met ’n hondevertoning vermaak, gevolg deur boere-sport. Hierna gaan Demi-Lee en Adam die aand op ’n hoë noot afsluit.

Dan is dit partytjietyd.

Saterdag is die groot dag met onder meer die Bokmakierie Chicken Funride om 07:30 en die 5km Crazy Co-lour Walk om 08:00. Motorgeesdriftiges kan vanaf 09:00 tot 16:00 uitsien na ’n Streetrod and Vintage karskou, gevolg deur ’n babakompetisie (0 tot 35 maande) om 10:00. Daar is verder om 11:30 ’n Fancy Dress-kompetisie vir kleuters tussen 3 en ses jaar. Deelnemers moet aantrek soos iets wat met die letter B begin.

Mej. Botseltjie vir graad 1 tot graad 3-leerders en Mej. Bloeiseltjie vir graad 4 tot graad 7-leerders vind vanaf 12:00 tot 13:00 plaas.

Die Saterdagaand vermaak Juan Boucher en sy orkes feesgangers.

Deurlopende kindervermaak word aangebied.

En ja, daar ís ’n grootskerm vir die rugby wêreldbeker se semi-finaal.

Natasja Joubert sluit die naweek met ’n feesdiens om 09:30 by die NG Kerk Joubertina af.

Inligting

Kaartjies kos op die Vrydag R40 vir volwassenes en R20 vir pensionarisse en laerskoolleerders, terwyl kaartjies vir die Saterdag R60 vir volwassenes en R30 vir pensionarisse en laerskoolleerders beloop.

Besoek www.bloeiselfees.co.za vir die volledige feesprogram.

You need to be Logged In to leave a comment.