Le Chameleon
Le Chameleon. Fotos:Verskaf

In Desember 1994, het Rudi en Helga van Wyk die “Die Padstal” geopen op die perseel waar hulle vandag nog ge-leë is. Aanvanklik het hulle veral gefokus op hul bakkery-afdeling en het hulle die plaaslike gemeenskap van heerlike vars brood, asook ander plaasvars items soos groente en konfyt voorsien – alles wat ’n mens by ’n tradisionele padstal te wagte sou wees.

Hulle het klein en eenvoudig begin uitbrei met tweedehandse meubels van ander plase en winkels in die omgewing.

Bykans drie dekades later kan besoekers nie anders as om die geskiedenis van die omgewing in hierdie plek te ervaar nie. ’n Mens verwag telkens dat ’n plaastannie met haar voorskoot agter die antieke toonbank te voorskyn sal kom. Stap jy ’n bietjie verder in, na die geskenke- en restaurantafdeling van die gebou, is ’n hele ander wêreld jou egter te wagte.

Soos die jare aanstap, het die Van Wyks besef dat daar ’n aanvraag is vir ’n koffiewinkel, en later ’n restaurant. Hulle het besluit om die bakkery te verklein en die spasie te benut om nog mense te kan bedien. Soos wat hulle besiger geword het, het die padstal amper organies ontwikkel na ’n volskaalse gelisensieërde restaurant en funksie-lokaal.

Verskillende vertrekke, elk met eie tema

Daar is verskillende vertrekke, elkeen met sy eie unieke tema. Tog is die style enders – soos verskillende skilderye van dieselfde kunstenaar.

Le Chameleon
Le Chameleon is ‘n skatkis vol interessanthede om elke hoek en draai. Foto:Joané Azenha

Die klavierkamer was eerste daar. Dit is heerlik luuks met dik matte, ’n kaggel en natuurlik, ’n klavier in die middel van die vertrek. Hangende kandelare en prentjiemooi muurpapier bring al die elemente soos ’n simfonie bymekaar.

Na die klavierkamer het hulle besluit om nog ’n vertrek in te ruim vir gaste, as ’n plek waar gaste kan wag vir ’n tafel om oop te gaan in die klavierkamer. Die wynkamer het toe ontstaan en vinnig ontwikkel in ’n volwaardige deel van die restaurant, waar mense lekker kan sit en eet.

Dié vertrek bevat rakke vol wyn, vir almal van die wynkenner tot diegene wat net wyn drink vir die lekkerte. Alles is pragtig uitgestal, van die wyn tot die skilderye wat die mure volhang. ’n Tradisionele portret van een van Helga se grootouers hou ’n wakende oog oor die insittendes van hierdie area, met strelende agtergrondmusiek wat jou sintuie verder betower.

Die fluweelkamer is later van tyd ingerig as ’n area vir privaatfunksies, waar besighede konferensies kan hou, of verjaarsdagetes in vrede kan plaasvind. Dit is, soos wat die naam voorstel, net so weelderig soos die res van die vertrekke.

Buite is ’n pragtige piazza, kompleet met fontein en leiklipvloere vir diegene wat pragtige groen tuine en vars lug geniet.

Ontdek in elke hoekie iets nuuts

Saam met die ontwikkeling van die restaurant, het hulle ook begin om allerlei interessante geskenke te ver-koop. Die geskenkekamer is die eerste vertrek wat jy kan sien na die padstalgedeelte. Dit is ’n mekka van inte-ressanthede, oudhede, lekkerruikgoed, klere en soveel meer. Dit is ver-sier met swaar tekstiele, oorgroot meubels, warm, dramatiese drape-rings, en hangende kristalkandelare. Gaste word voorwaar op ’n reis ge-neem en kan verseker wees dat hulle in elke hoekie iets nuuts sal ontdek.

Die hedendaagse naam – Le Chameleon- het ontstaan uit juis dít: Die behoefte om altyd innoverend te wees. Die winkel se slagspreuk, “Ever changing”, bevestig dit.

Le Chameleon

Volgens Rudi, is hulle mense wat graag reis en bring dan invloede van dwarsoor die wêreld terug na hulle winkel. Al die geskenke word deur Helga persoonlik gekies en weerspieël iets van haar persoonlikheid.

“As ’n mens nie self van iets hou nie gaan jy dit moeilik aan iemand anders verkoop. Dit is baie belangrik dat so ’n besigheid iets van jouself in het, sodat jy dit ook kan geniet.”

Geniet Le Chameleon se eie koffie

Omdat Rudi ’n koffiekenner en –fanatikus is met professionele barista opleiding, is die standaard van die koffie wat hulle bied vir hom baie belang-rik. Dus, het hy ’n jaar lank met koffie ge-eksperimenteer tot hy die perfekte mengsel van koffiebone gekry het. Hy rooster daagliks vars koffie vir die winkel, en verpak en verkoop selfs hulle eie koffie, “Monte Bello”- wat vernoem is na die koshuis waar hy gewoon het terwyl hy op skool was. Dit sorg vir nog een van so baie persoonlike besonderhede wat hierdie winkel maak wat hy vandag is.

Die Van Wyks besit en bestuur vandag ’n klein deeltjie van Humansdorp se erfenis. Mense kom van heinde en verre om dié unieke onderneming te besoek- die besoekersboek wat in die klavierkamer te siene is, is telkens bewyse daarvan. Vele skoolkinders het al smiddae aan hulle reuse “Chelsea buns” gesmul – ’n lekker herinnering uit my eie kinderdae.

You need to be Logged In to leave a comment.