“Nou, van watter Botha’s is jy….?”
As jy meer oor jou herkoms en familie wil leer, is dit hierdie week jou kans om kers op te steek by kundiges.
Internasionale Museumdag word vanjaar ook op Jeffreysbaai gevier, met genealogie – die studie van familiegeskiedenis – as die tema. Daar sal ’n inspirerende uitstalling in die Fountains Mall wees op 21 Mei. Daar kan mens sien watter verrassings opgediep kan word, en raad kry oor hoe om te werk te gaan om dit self te kan doen.
Internasionale Museumdag word jaarliks in Mei gevier, maar is verlede jaar afgelas weens die COVID-19 pandemie. Die Internasionale Raad van Museums (ICOM) besluit jaarliks op ’n tema, en hierdie jaar is dit: “Museums have the power to transform the world around us.” Museums is nie net plekke van ontdekking oor die verlede nie, maar ook plekke waar nuwe idees gebore kan word.
Snuffel oor familie al meer gewild
Dit is redelik bekend dat die belangstelling in familiegeskiedenis wêreldwyd toegeneem het, veral oor die waarde wat enkelinge en groepe heg aan hul soeke na herkoms en identiteit. Genealogie plaas ’n persoon se afkoms, met die suksesse en mislukkings van die voorgeslagte, in perspektief. Mense is geneig om melding te maak wanneer daar ’n verwantskap met ’n be-kende persoon bestaan, maar deesdae is daar ’n groter openheid om selfs ook verwantskappe met berugte persone te openbaar.
Die Britse joernalis, Johann Hari, sê: “Connecting with members of our family past and present by learning their history, fills an innate need in each one of us.”
Besoek die uitstalling vir meer inligting oor hierdie gewilde stokperdjie.
Die Humansdorpmuseum is ’n gerekende navorsingsentrum. Dit het ’n uitgebreide versameling boeke, genealogiese bronne en nuttige inligting wat kan help met die opspoor van daardie ontwykende familielede.
Twee ervare navorsers, Hendrik (Pottie) en Cathy Potgieter, is elke Maandag en Vrydag by die museum om te help, en groentjies touwys te maak.
Te danke aan die groot aantal boeke en inligting wat onlangs geskenk is deur Pierre en Hester Marx asook Rob en Maureen McClelland, word die museum as ’n waardevolle familienavorsingsentrum beskou.