DIE verhoor oor die moord op Claus Schroeder, ’n sakeman van Jeffreysbaai, het in die pylvak ’n terugslag gekry.
Die hooggeregshof in Port Elizabeth het verlede Woensdag gehoor dat Jens Leunberg, ’n Duitse burger en een van die moordbeskuldigdes, sy regsverteenwoordiger, Danie Gouws, afgedank en ’n aansoek om verteenwoordiging by Regshulp Suid-Afrika ingedien het.
Die onderskeie regsverteenwoordigers en die staatsaanklaer maak ná ’n verhoor van vier jaar gereed om hul slotbetoë te lewer.
Leunberg en Kristina Adler is reeds agt jaar gelede in hegtenis geneem en aangekla van die moord op Schroe-der, wat op 14 Augustus 2009 onder raaiselagtige omstandighede van sy plaas in Thornhill net buite Jeffreysbaai verdwyn het.
Die verhoor het egter eers vier jaar gelede begin.
Gouws het regter Thembekile Malusi gister meegedeel dat Leunberg sy mandaat beëindig het.
Hy het verlof gevra om hom aan die saak te onttrek.
Malusi het Gouws gevra om sy slotbetoë af te handel en die “vrugte van sy arbeid” in die saak by die hof in te dien.
Gouws het ingestem, maar gesê hy sal drie tot vier weke benodig om die slotbetoë te voltooi.
Malusi het hierna sy aandag op Leunberg in die beskuldigdebank gevestig en wou by hom weet wat sy plan rakende regsverteenwoordiging is.
Leunberg het deur ’n tolk gesê hy wag om te hoor of Regshulp Suid-Afrika sy aansoek goedgekeur het, waarna hy beplan om sy ma van Duitsland te laat kom om te getuig.
Hy wil ook sewe ander getuies roep.
Hulle sal glo getuienis lewer oor Schroeder wat insolvent was, asook oor dokumente rakende ’n Duitse ondersoek en oor die dag waarop Schroeder verdwyn het.
Adv. Johan van der Spuy van Regshulp Suid-Afrika het gesê Leunberg sal vertoë moet rig met redes hoekom hy weer hulp van dié organisasie moet kry.
Leunberg het reeds voorheen ’n regsverteenwoordiger van Regshulp Suid-Afrika afgedank.
Van der Spuy het gesê Regshulp Suid-Afrika gebruik staatsgeld en kan nie geld vermors op mense wat regsverteenwoordigers lukraak afdank nie.
Malusi het Leunberg tot 28 Maart gegee om regshulp te kry waarna hy ’n besluit oor die pad vorentoe vir die verhoor sal neem.
“Hierdie verhoor duur al vier jaar. Dit is tyd dat dit gefinaliseer word. Albei beskuldigdes en die klaer ver- dien afsluiting.”
Hoewel Schroeder se lyk nooit gevind is nie, is hy later dood verklaar.
Leunberg en Adler word daarvan beskuldig dat hulle hom met miljoene rande wou bedrieg deur met vervalste finansiële dokumente sy plaas in Thornhill te koop.
Die staat beweer hulle het Schroeder vermoor toe hy van die bedrogspul uitgevind en hulle daaroor gekonfronteer het.