Egpaar Derek en Linda Gordon van Mello & Jive tree in die area op. Foto’s:VERSKAF


DIT Woensdagaand na die stemmery en ons sit by ‘n bespreekte tafel waar die nimlike Marinda Lampbrecht ons hartlik ontvang.

Sy en manlief Braam is die eienaars van die Savoy Hotel Pub & Grill in Da Gama Straat – ‘n bekende landmerk in Jeffreysbaai. Hy kom ook bladskud.

Elke week vermaak sangers en musikante in lewende lywe die klante by die Savoy.

Op die verhoog dié aand is egpaar Derek en Linda Gordon van Mello & Jive. Derek, vroeër van die legendariese The Bats, kom groet ons vinnig by die tafel voor hulle met die optrede begin. Hy sê hulle het in Maart, vanjaar van Kaapstad af hierheen getrek.

Die gesoute musikante/ sangers skop af met ’n lied deur die “queen of England – Elton John”. Die mense kan nie help om die bekende wysies saam te sing of neurie nie.

Kleurvolle liggies dans op die vloer met ‘n gemurmel van stemme in die agtergrond. Woensdae is juis steak-braai by die eetplek.

Derek en Linda gaan interaktief met die gehoor om wat om hoë of lang tafels luier. ’n Klant wat verjaar, word luid toegesing. Die mense kuier.

Op Donderdae sing Borries Bornman en betrek die besoekers met karaoke.

Vrydae en Saterdae is Nice-O-Nico van Despatch se beurt om gaste te vermaak.

Kobus en dogter Karla Gouws van Despatch het lang sessies van 12:00 tot 17:00 op Sondae. Hulle is ook van Despatch.

Meer oor Mello & Jive

Derek en Linda is sedert November 1976 by professionele musiek betrokke – in hul 43ste jaar in die bedryf.

Eers het hulle met die groep, Pendulum, deur die land getoer. Vroeg in 1988 het die paar Mello & Jive gestig en ‘n rekordtyd by die Port Elizabeth Holiday Inn opgetree. Daarna is hulle Durban toe. Teen die mid-negentigs het die Goudstad geroep, en in Augustus 2000 het Derek deel van The Bats geword met Eddie Eckstein, Paul Ditchfield en Pete Clifford.

Maar nou is Derek en Linda Jeffreysbaaiers en tree oral in die area op.

Vir meer inligting, skakel die Savoy Hotel by 042 293 1106.

You need to be Logged In to leave a comment.