STAMPMOTORS . . . waagmoed . . . ’n sperreling . . . geen remme en ’n soen – dáár het alles begin.
Liefde met die eerste oogopslag, of eerder, die eerste stamp.
Vandag – 64 jaar later – brand die liefdesvure nog hoog, ten spyte van verskeie uitdagings wat Edna (84) en Daniel (Dan) de Kock (87) van Jeffreysbaai se pad gekruis het.
Dié egpaar is op 4 Februarie 1956 getroud nadat hulle mekaar in April 1955 by stampwedrenne in Johannesburg ontmoet het. ’n Wedren wat Edna skelm saam met ’n vriendin bygewoon het.
“Die eerste keer wat ek Dan, ’n voormalige stampwedren-bestuurder, gesien het, het ek geweet hy is die man met wie ek gaan trou,” lag Edna.
Dit was egter eers twee weke later, toe die organiseerders ses vroue-vrywilligers gesoek het om om die baan te ry, dat sy hom van aangesig tot aangesig ontmoet het. Nie oor haar bestuursvernuf nie, maar omdat sy reeds tydens die oefenlopie in die sperrelings vasgery het – ná sy vir stoele uitgeswaai het.
Die feit dat dié motors geen remme gehad het nie, het beslis nie gehelp nie.
Edna lag: “Dan het dadelik tot my redding gekom.
“Na die wedren het hy my terug na my huis gevat. En gesoen.”
Dan, wat die eerste stampwedrenbaan saam met Buddy Fuller in Johannesburg begin het se oë kreukel van lekkerkry: “Sy het dan so honger vir liefde gelyk.”
Drie weke later is hulle verloof – ná ‘onskuldige’ vensterinkopies – en tien maande later is hulle tydens ’n intieme seremonie getroud.
Die liefde tiekiedraai in haar oë: “Die Here het ons bymekaargebring.
“Die getroude lewe is ’n saak wat van twee kante kom. Ons het ons struwelinge gehad, en daar was uitdaging , maar ons het daardeur gewerk.
“Ek was een keer so kwaad vir hom dat ek gedreig het om my tas te pak en terug na my ma te gaan. Hy het nie op hom laat wag nie, en my sommer begin help pak. Soos wat hy my klere in die tas pak, het ek dit weer uitgepak.
“Die Here was, en is steeds, goed vir ons.”
Edna, ’n voormalige boekhoer, en Dan, ’n voormalige fabriekbestuurder, het een seun (61) en en twee kleinkinders.
Sy glimlag hartseer: “Ek sou graag ses kinders wou gehad het, maar die Here het in sy wysheid anders besluit.”
Die egpaar het voorheen in die land met hulle karavaan rondgereis en het verskeie trofeë op die gholfbaan ingepalm.
“Maar hy het nie so baie trofeë soos ek nie,” skerts Edna.
Edna maak nog self hulle huis – propvol onthou – skoon, terwyl Dan gereeld in die tuin skoffel.
Die resep vir die lang reis?
“Ons het van die begin hande gevat en alles saamgedoen,” sê Edna. “Saamdoen, en om elkeen die plek te gee om sy eie ambisie te volg en om sy identiteit te behou. Asook geloof, geduld, verdraagsaamheid, respek vir mekaar en báie liefde.
“Maar die belangrikste, God se Genade.”