MOTORFIETSRYERS hou daarvan om veral naweke die kronkel-paaie in die prentjie-mooie Gamtoosvallei te verken.
Gelukkig is Local is lekker Pub & Grub ’n ware oase teenaan die R330 (die pad tussen Loerie en Hankey) waar hulle dan hulle ysterperde tot halt kan roep vir ’n smaaklike ontbyt.
Die naam is definitief gepas vir dié familie-restaurant wat ’n katspoeg buite Hankey en skaars 50 minute se ry uit Gqeberha (Port Elizabeth) in die Pabala-natuurreservaat geleë is.
Buiten die heerlike kos en – natuurlik – ver-kwikkende drankies is besoekers ook versot op die pragtige uitsig oor die natuurreservaat waar die kameelperde en bosbokke soms vlak by die kuierplek verby loop om te gaan dagsê.
Die restaurant behoort aan Dawie en Ansie Meyer wat die perseel by die eienaar van die Pabala-natuurreservaat huur.
Die egpaar bedryf dié gesellige kuierplek al amper drie jaar, maar is nie vreemdelinge in die bedryf nie en het voorheen vir vyf jaar ook ’n restaurant in Hankey gehad.
“Dit was eers ’n gewone woonhuis hier in die reservaat wat ons in ’n restaurant en kuierplek omskep het,” verduidelik Dawie. “Ons het self die afdakke en sondek gebou waar besoekers graag sit en kuier en vanwaar hulle ’n pragtige uitsig oor die natuurreservaat het.”
“Ons het ’n baie goeie verhouding met die eienaars van die reservaat en sal soms ook die besprekings hanteer as hulle nie hier is nie,” sê Dawie.
“Omdat die reservaat selfsorg-verblyf aanbied, eet die besoekers daar nie altyd hier by ons nie, maar ons verskaf graag ys aan hulle of laai gou hulle selfone en dan drink hulle dikwels ’n drankie en eet somtyds iets lig.”
Ansie is geweldig trots op die etes wat by die restaurant bedien word.
“Ons het twee kokke, een wat voltyds hier is en dan ook een wat naweke kom help,” sê sy.
“Gedurende ’n braaidag op ’n naweek het ons al soveel as 80 persone hier gehad en dan gaan dit dol!”
“Albei ons kokke is reeds van Hankey se dae af saam met ons en het nog net komplimente vir die kos wat hulle voorberei ontvang.”
“Ons Jalepeno-poppers is gewis ook die beste, vra maar vir enige persoon vanaf Jeffreysbaai tot in Port Elizabeth (dit is die reine waarheid, ek het self tydens die onderhoud daaraan gesmul, propvol kaas en lekkerte), maar die ribbetjies en steaks is net so gewild!”
“Covid het ook natuurlik sake vir ons bemoeilik, maar ons het met die verligting van die inperkingsregulasies wegneemetes ver-koop aan die boere en selfs ook aan die mense in Hankey.”
“Gesinne stop dikwels hier om iets te nuttig op pad huis toe nadat hulle die besiens-waardighede in Hankey, wat die oudste dorp in die Gamtoosvallei is, besoek het,” verduidelik Dawie.
In dié gebied kan jy onder meer na die grootste sonwyser in Afrika gaan kyk en die graf van die bekende Sarah Baartman op ’n koppie net buite die dorp besoek, en in seisoen kan jy jou eie aarbeie op die aarbeiplaas gaan pluk.
“Die restaurant is darem ook nie net gewild onder besoekers wat hier verbyry nie, ons het ook ’n paar plaaslike besoekers wat help om die water en ligte te betaal,” sê Dawie met ’n knipoog!
Inwoners van die Kouga-omgewing neem ook graag deel aan die potjiekos- of braaikompetisies wat gereeld daar gehou word.
Op braaidae kan jy vir jou ’n braaipakkie koop en Ansie en haar span maak ook roosterkoeke en slaaie wat daarmee saam geniet kan word. Die vure brand dan sommer reeds van vroeg af hoog!
“Groot groepe is ook altyd welkom. Die motorfietsryers skakel en bestel gewoonlik vooraf hulle kos en dan kan almal op dieselfde tyd eet,” sê Ansie.
Plaaslike musikante tree gereeld by die restaurant op en as jy dink jy kan by Dolly Parton kers vashou is jy ook welkom om deel te neem aan die karaoke-pret wat dikwels gehou word.
“Dit gaan soms vrolik ja,” sê Dawie en lag te lekker uit sy maag toe hy gevra word of besoekers nie soms teen die heuwel afrol nie. “Dis mos hoekom daar ’n draad gespan is, en die maeres stop sommer al teen die eerste klip!”
Maar dit bly ’n familierestaurant en volgens die Meyers het hulle nog nooit probleme met moeilike besoekers of misdaad gehad nie.
Kinders kan ook heerlik buite op die swaaie van hul energie ontslae raak en daar is dikwels hasies of skilpaaie wat nuuskierig nader staan om die jolighede te aanskou.
Volgens die Meyers is die enigste werklike probleem dat dit baie moeilik is om huiswaarts te keer as jy jou eers tuisgemaak het op die dek.
“Maar daarvoor is daar ook ’n oplossing,” sê Ansie. “Daar is mos meer as genoeg slaapplek net hier in die reservaat!”
Local is lekker Pub & Grub kan van Maandag tot Saterdag van 09:00 tot 20:00 besoek word en op ’n Sondag van 09:00 tot 13:00
Bel Dawie en Ansie Meyer by 060 907 9416 of e-pos ansiemeyer.am@gmail.com of besoek hul Facebook-blad (Local is Lekker Pub & Grub) om te sien wat daar aangebied word.