DJ Opperman se gedig: “My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel, daar’s iemand in anys”, vertel voornemende besoekers aan vanjaar se Loerie Nartjiefees wat hulle kan verwag – ’n sproeireën van kleur en geur, sang en musiek, smake en tekstuur.
Besoekers aan die fees wat op Saterdag, 28 September by die NG Kerk Loerie plaasvind, kan uitsien na propvol stalletjies en klankryke optredes deur van die land se gewilde kunstenaars.
Die vermaaklikheidster, Dillon Lerm, laat vanaf 08:00 tot 09:00 die skare se voete jeuk en hul hande vuurwarm klap. Kobus en Karla vermaak feesgangers vanaf 09:00 tot 10:00, gevolg deur Elandré Schwartz. Ander, wat by die gesinsfees optree, is Manie Jackson om 12:00, Leah om 13:00, Fatman om 14:00 en Kurt Darren om 15:00.
Kraakvars plaasprodukte – veral groente en nartjies – etes, tuisgebak, en vrugte uit die Gamtoosvallei sal feesgangers versadig.
Keurige koek en tert is by die koffiewinkel be-skikbaar.
Mej. Nartjie
Inskrywings vir die gewilde Mej. Nartjiebloeisel (ses tot nege jaar) en Mej. Nartjie-fees (14 tot 21 jaar) vind om 08:00 in die kerkgebou plaas, gevolg deur die kompetisie om 09:00.
Die inskrywing is R50 en deelne-mers moet netjiese slenterdrag dra.
Wenners word om 11:00 op die feesverhoog gekroon.
Nartjie-eetkompetisie
’n Hoogtepunt van die dag is die groot nartjie-eetkompetisie om 11:30 wat elke jaar vir volop pret sorg wanneer die moedige deelnemers soveel nar-tjies as moontlik in ’n minuut probeer baasraak.
Almal kan deelneem – geen ondervinding is nodig nie – en die kans staan om ’n prys te wen.
Water Warriors
South African Water Warriors, ’n nie-winsgewende organisasie, gaan tydens die fees broodnodige donasies vir boere en hul werkers insamel.
Items benodig sluit in 5l geseëlde water, blikkieskos, rys, pasta, soya, maalvleis, koekmeel, mieliemeel, suiker, koffie, tee, kookolie, tandepaste en seep.
Kontant is ook welkom.
Vir inligting, skakel Gerda Swart by 082 560 3635 of stuur ’n epos na gswart335@gmail.com.
Meer inliting
Feesgangers moet hulle eie opvou-stoele saambring om na die kunstenaars te luister.
Geen sterk drank, gazebos of piekniekmandjies word toegelaat nie.
Toegang kos R130 vir volwassenes en R50 vir laerskoolkinders. Hekke open om 08:00.
Vir meer inligting, skakel die Nartjiefeeskantoor by 042 287 0634 of 082 318 6827. Stuur ’n epos na ngkerkloerie@lantic.net of besoek hul webtuiste by www.loerienartjiefees.co.za.


