’n VERSOEK vir ’n toksikologieverslag is gerig nadat die oorsaak van Madelein Calitz se dood nie deur die lykskouing bepaal kon word nie.
Calitz (48) se lyk is Vrydagoggend in een van die waterkanale naby Lancia Close in die veiligheidslandgoed Marina Martinique by Astonbaai in die Oos-Kaap aangetref.
Nog ondersoeke word nou gedoen nadat die oorsaak van haar dood nie gister deur ’n lykskouing bevestig kon word nie.
Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het gesê monsters is geneem om weg te stuur vir ’n toksikologieverslag, maar die uitslae word nie binnekort verwag nie.
Die polisie het tans geen nuwe inligting bekom nie en ’n geregtelike doodsondersoek word steeds gedoen.
Calitz is glo verlede Donderdagaand laas deur haar kêrel, Paul de Vos (47), lewend gesien.
De Vos se regsverteenwoordiger, Gerrie Basson, het vroeër gesê die paartjie het die aand gestry, waarna sy die huis in haar motor verlaat het.
Volgens Basson is De Vos later die aand deur veiligheidswagte van die oord geroep om Calitz se motor huis toe te bring nadat dit verlate in die oord aangetref is.
Hierna het De Vos besluit om die Vrydag rondom 01:00 die huis in Marina Martinique te verlaat en na sy sakeperseel in Uitenhage te ry.
Volgens Basson het De Vos gehoop sy afwesigheid sou help om die situasie te ontlont. De Vos is later Vrydagoggend deur Calitz se seun oor haar dood ingelig.