Ma Urla tree ná 41 jaar uit die onderwys

Ná 40 jaar het die einde van ’n era aangebreek – Urshula Felix het as onderwyseres afgetree.


Ná 40 jaar het die einde van ’n era aangebreek – Urshula Felix het as onderwyseres afgetree.

Ma Urla, soos sy bekend is, is ’n boorling van die Gamtoos area.

Haar pa het ’n hand gehad in die stigting van die Du Preez Primêre Skool en later ook Chigwell Primêre Skool. Ma Urla het haar loopbaan as onderwyseres by die Bonnievale Primêre Skool in die Wes-Kaap in 1980 begin, toe in 1984 by Chigwell Primêr aangesluit vir ’n tyd voordat sy in 1988 na De Mistkraal Primêr is. Sy stop eindelik in 1992 by Baviaans Kouga Academy in Patensie waar sy 29 jaar diens gelewer het tot haar aftrede in Augustus 2021.

Hoewel sy amptelik in Augustus reeds afgetree het, was Ma Urla besig tot einde September met haar leerders se punte. Die skool het natuurlik vir haar ’n afskeidspartytjie gehou wat sy tog nooit sal vergeet nie.

“Die beste van my dae was om die kinders te leer en dan ook beter te leer ken,” het sy gesê van haar dae by Baviaans Kouga Academy. “Dit was ’n groot voorreg om my tyd by so ’n besonderse skool te kon spandeer. Omdat die skool so klein was, het ek my kinders almal persoonlik geken, sowel as hul ouers en dit was vir my baie spesiaal.

“Die plaas het nie baie geleenthede vir die jongmense nie, dit was dan ook vir my ’n voorreg om ná skool met die kinders te kon deel en help waar ek kon.”

En sy het baie haar werk huis toe gebring, en haar gesin by die werk betrokke gekry.

“Die gesin was by als betrek. Omdat dit ’n plaasskool was, was daar nie baie geriewe nie. Haar oorlede man, Sam Felix, moes opsigter speel en ook die kinders rondry. Juffrou Urshula se kinders moes ook met baie aktiwiteite inspring en help, soos by atletiekbyeenkomste,” het Ma Urla se skoondogter, Elvina Felix, vertel.

Tussendeur die skoolwerk het Ma Urla ook haar tyd bestee aan die skool se netbal- en atletiekspanne, asook verskeie ander buitemuurse aktiwiteite, en sy was betrokke by die kerk se programme wat gereeld op die plaas plaasgevind het.

Wat was vir haar die lekkerste deel van haar werk?

“Om met die kinders te kan werk, nie net by die skool nie maar ook ná skool ure het sy huis besoeke gedoen en kon ’n hulp wees vir die plaas gemeenskap,” het Elvina vertel.

En kinders het ’n groot rol in haar lewe bly speel, nie net omdat die gemeenskap so klein en geheg is nie, maar ook omdat Ma Urla spog met drie kinders (twee seuns en ’n dogter), ’n skoondogter, ’n skoonseun, en drie kleinseuns.

Op moeilike dae, was dit net die Here wat haar deurgedra het.

“Absoluut die Here, dis Hy wat my die krag gee en die uithouvermoë om elke dag aan te gaan en ’n hulp vir iemand anders te kan wees,” het Ma Urla gesê.

Nou dat sy bietjie meer vrye tyd het, kan sy lekker agteroor sit en doen waaroor sy so mal is: rugby kyk.

“Ek is mal oor sport. My gunsteling tydverdryf is om rugby te kyk. As daar nou nie sport op televisie is nie, sal jy my agter die potte kry, wat ook ’n liefde van my is, om te kook.”

En vir die toekoms het sy ook planne om besig te raak in haar eie gemeenskap.

“Ek wil graag by my gemeenskap betrokke raak. Ek bly deesdae in die Jeugkamp, Humansdorp en hier is ’n groot behoefte aan ’n sopkombuis, sowel as naskoolse onderrig vir ons minderbevoorregte kinders.”

Luidens Elvina het Ma Urla vertel dat sy roem in die Here want deur Hom het sy so baie vermag, dinge wat sy net kon van droom soos om waarnemende prinsipaal te word in 2016.

“Haar Pa, Mnr. Pekeur, sou vandag baie trots gewees het,” het sy vertel.

Ma Urla het onder leiding van nege skoolhoofde onderwys gegee in haar 41 jaar.

“Haar langste hoof en by wie sy die meeste geleer het, is vandag ons huidige burgemeester, Horatio Hendricks.”

“Ons is absoluut trots om ’n Ma soos u te kan hê en ’n lewe met u te kan deel. Mag die nuwe fase in Ma Urla se lewe net voorspoed inhou. Ons wens is dat u nog baie mense se lewens sal aanraak in u leeftyd en ’n groot verskil ook nou in die Jeugkamp, Humansdorp sal maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.