Man al 10 keer H’dorp toe vir rybewys

NÁ bykans twee jaar se oponthoud en ure se toustaan, wag ’n pensionaris van Astonbaai steeds vir sy rybewys – en sy geduld skaaf nou dun.


NÁ bykans twee jaar se oponthoud en ure se toustaan, wag ’n pensionaris van Astonbaai steeds vir sy rybewys – en sy geduld skaaf nou dun.

Dít ondanks talle oproepe en pleidooie aan die Kouga-verkeersdepartement en -munisipaliteit.

Johan de Klerk sê hy is al minstens 10 keer die afgelope jaar na die verkeersdepartement in Humansdorp na hy sy rybewys in Julie 2018 hernu het – net om elke keer onverrigter sake huiswaarts te keer.

“Ek het vroegtydig gegaan om seker te maak dat ek die nuwe rybe-wys betyds sal kry,” sê De Klerk wat ’n tydelike bewys bekom het – al drie keer.

“Nie dat dit enigsins gehelp het nie.”

Volgens hom het hy gereeld na-vraag gedoen om te hoor of daar al enige teken van sy rybewys is – die eerste keer ses weke na sy aansoek.

“Elke keer was die antwoord dieselfde: ons wag vir die maatskappy wat die kaartjies maak,” sê ’n ontstoke De Klerk.

“Eers talle oproepe en besoeke later het hulle laat weet dat daar ’n probleem met die uitreiking van my rybewys is: my vingerafdrukke is nie aanvaarbaar nie.”

Toe volg die maande-lange wag vir die kansellasie van sy oorspronklike aansoek.

De Klerk is weer deur die hele proses: ’n nuwe afspraak – wat hy eers vroeër vandeesmaand kon kry – en ’n oogtoets.

Hy hoop nou dat hy binnekort in besit van sy nuwe rybewys sal wees.

Volgens De Klerk het sy vrou, Ria, deur presies dieselfde beproewing gegaan. Sy het 16 maande na haar aansoek haar nuwe rybewys ontvang.

“Dit is ’n belaglike spul,” sê hy.

Nóg probleme

De Klerk se probleme eindig nie by sy uitstaande rybewys nie.

Die onhoudbare rioolreuk wat elke nou en dan sy neus begroet die oomblik wat hy by Apiesdraai verbyry, laat hom warm onder die graag – ’n wesenlike gesondheidsgevaar en onaangename leefomstandighede waaraan, volgens hom, niks gedoen word nie.

Verder het De Klerk menigte oproepe na die munisipaliteit en ’n skut by Loerie gemaak oor die gesondheids- en lewensgevaar wat yslike troppe beeste en varke langs die Jeffreys-Aston pad inhou, maar die meeste oproepe word nie beantwoord nie.

Hy het aangebied om met sy bakkie van die kalwers weg te ry, en volgens hom het ’n wetstoepasser ’n sleepwa belowe, maar daarvan het dadels gekom.

Hy is oortuig daarvan dat van die beeste aan sommige raadslede behoort.

“Hoekom anders word daar niks daadwerklik aan die situasie gedoen nie?” vra hy.

’n Besoek aan Munisipale Be- stuurder, Charl du Plessis, het ook geen vrugte afgewerp nie.

Kouga Gemeenskapsdienste portefeulje raadslid, Daniel Benson, sê: “Die privaatskut in Loerie is weens ’n hangende ondersoek gesluit. Die munisipaliteit het egter ander diensverskaffers in plek vir die optel en huisvesting van verdwaalde en rondloperdiere.”

Vullisverwydering, die swak toestand van sommige paaie en munisipale rekeninge wat laat in sy posbus verskyn, is ook op sy lang lys van klagtes.

’n Ontstoke De Klerk sê: “My swartsakke word male sonder tal nie verwyder nie – al word die res van die straat se sakke verwyder.”

Hy het al so ver gegaan om sy vol vullisblik by die munisipale-kantoor uit te gooi, maar steeds is daar geen einde aan dié probleem nie.

“Hoekom ondersoek die munisipaliteit nie inwoners se klagtes nie?” vra De Klerk wat nou eis dat ’n kommissie van ondersoek op die been gebring word.

“Slegs een voorval van onafgehaalde vullis in Astonbaai is die afgelope ses maande aangemeld,” sê Benson.

Die munisipale afvalafdeling is ook nie bewus van enige voorvalle van vullis wat nie verwyder is nie.”

Hy moedig De Klerk aan om van die Kouga inbelsentrum (042 200 2200) of Link-dienslewering-app gebruik te maak om klagtes aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.