Man gewond in plaasaanval in Thornhill

’n MAN (57) is in sy been gewond nadat minstens vier aanvallers op hom en sy seun van buite hul plaashuis losgebrand het.


Volgens die polisie het die voorval Maandag omstreeks 20:30 op die Moorland Seedlings-plaas in die Thornhill-gebied, ongeveer 50 km buite Port Elizabeth in die Oos- Kaap, gebeur.

Vier mans met klapmusse het na bewering verskeie skote deur die sitkamervenster afgevuur, asook klippe deur die vensters gegooi, glo in ’n poging om toegang tot die huis te verkry.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê die man is in sy linkerbeen raakgeskiet.

“Hy en sy seun het in ’n kamer geskuil en die paniekknoppie gedruk. Die aanvallers het kort daarna gevlug.”

Die polisie, Smhart Security en onderskeie buurtwagte het onmiddellik gereageer, maar niemand is teen Dinsdagoggend aangekeer nie.

David Phelan van die Kouga Security Alliance sê buurtwagte en veiligheidswagte het dadelik afsnypunte in die gebied beman, maar hy vermoed die aanvallers het te voet gevlug en ’n wegkom-motor op die nabygeleë N2 gehad.

Phelan wou nie oor die motief vir die aanval bespiegel nie, maar sê daar is wel ’n toename in huisbrake in die Thornhill-gebied.

’n Saak van poging tot moord word ondersoek, het Swart gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.