Die man wat glo drie vroue langs ’n pad buite Jeffreysbaai doodgery het, is op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Johannes Janse van Rensburg (43) is reeds Sondag op borgtog vrygelaat en het gister net vlugtig in die landdroshof in Humansdorp verskyn. Hy is aangekla van strafbare manslag en dronkbestuur.
Die slagoffers is gister deur die polisie geïdentifiseer as Laurenay Bosman (23), Mieta Stuurman (49) en Leana Bosman (53). Hulle is Vrydagaand langs die R102 tussen Mondplaas en die Kabeljousrivier omgery.
Die vroue het langs die pad gestaan nadat hul motor onklaar geraak het. Janse van Rensburg, die bestuurder van ’n Ford Ranger-bakkie, het na bewering die vroue raakgery toe hy beheer oor sy bakkie verloor het nadat hy teen ’n aankomende vragmotor gebots het. Hy is op die toneel in hegtenis geneem en sal weer op 12 Junie in die hof wees. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel. – CARA-LEE DORFLING