’n BUITELANDER het verlede week tot die redding van ’n tienermeisie gekom wat waarskynlik sekondes later in ’n bebosde gebied by Jeffreysbaai in die Oos-Kaap verkrag sou word.
Die 30-jarige Zambiër, wat uit vrees vir ’n wraakaanval nie sy naam genoem wil hê nie, sê hy het Woensdagmiddag ’n man van ’n tienermeisie afgepluk. Die man het op die meisie gesit en sy hand oor haar mond gehou.
“Ek het eintlik eers later besef dit was ’n potensieel gevaarlike situasie, maar as ek dit weer moes doen, sou ek presies dieselfde opgetree het.”
Die man het in Junie in Suid-Afrika aangekom om as vrywilliger by ’n versorgingsentrum op dié kusdorp te werk.
Woensdagmiddag was hy omstreeks 16:00 by ’n huis in die buurt C-Place waar hy in ’n vertrek op die tweede verdieping gestaan het toe hy ’n “ouerige” man en ’n “baie jonger” meisie in die straat oplet.
“Ek het aanvanklik gedink dis ’n pa en dogter, maar het gou besef hier is iets anders aan die gang toe die man agter ’n bos instap en die meisie op die grond neergooi.”
Sonder om twee keer te dink, het die man by die huis uitgehardloop tot by die bosse oorkant die straat.
“Ek kon sien die man se hand is op die meisie se mond. Hy was duidelik gereed om iets aan haar te doen en hy wou keer dat sy skree.”
Die man sê hy het sy knie beseer en sy sel-foon beskadig terwyl hy en die ouer man op die grond gestoei het.
“Ek het in ’n stadium met my knie op ’n klip geval toe ek die man probeer vasdruk. Maar ’n kniebesering en ’n selfoon is niks in vergelyking met wat moontlik met die meisie kon gebeur het nie.”
Omstanders en veiligheidswagte van Smhart Security wat in die gebied was, het gou nader gestaan om die man vas te hou terwyl die polisie gekontak is.
Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê ’n 49-jarige man is op aanklag van poging tot verkragting in hegtenis geneem.
Die polisie het die Zambiër vir sy helde-daad geloof.
Die man sê die voorval stem hom nie nega-tief oor Suid-Afrika nie en hy beplan om nog ’n paar maande in die land te vertoef.
“Ek is heeltemal gekant daarteen dat vroue en kinders seerkry. Ek hoop die optrede sal dalk ander mense inspireer om ook in te gryp om hul medemens in nood te help. Nie net in dié land nie, maar oor die wêreld heen.”