VAN voete sleep is daar geen sprake nie . . . eerder ’n breë, innemende glimlag en ’n onblusbare passie vir die lewe.
Graad 3-onderwyseres Margaret Adriaan (60) – die langsdienende leerkrag by die Hankey Primêre Skool in Gamtoosvallei – het verlede week ná 43 jaar diens met ’n wip in haar stap dié skool vir die laaste keer gegroet.
Tyd vir aftrede. En meer tyd met haar familie.
Ja, opofferings was daar baie, erken Adriaan. Maar sy verruil niks vir die voorreg wat sy gehad om haar visie vir onderwys uit te leef en “leerders te sien ontwikkel en floreer nie”.
“Die daaglikse eise was enorm, maar dit was my keuse. Ek is diep dankbaar teenoor die skool wat my die ruimte gegee het om my passie na te jaag,” sê sy.
Die pligsggetroue juffrou, wat nie een dag spyt was dat sy onderwys haar beroep gemaak het nie, het minimaal siekverlof geneem.
“Daar was altyd werk om te doen – siek of nie,” sê sy.
Grenslose liefde vir onderwys
Adriaan, een van ses kinders, is in Hankey gebore.
Voordat dié formidabele akademikus ’n ambassadeur vir onderwys geword het, was sy ’n laerskool-leerder by die Hankey Primêre Skool – dieselfde skool waar sy vir die afgelope 43 jaar onderwys gegee het – voor sy graad 10 voltooi het.
Toe steek sy haar eerste grens oor en verkry haar twee-jaar onderwysdiploma in Uitenhage.
En op die jong ouderdom van 16 sluit sy as leerkrag by haar voormalige laerskool aan. ’n Kleindogtertjie-droom, en haar ma se grootste begeerte.
“Ek wou nog altyd met kinders werk,” sê sy. “Onderwys was die logiese – en beste – keuse.”
Die ma van drie spruite – wat mettertyd haar matriek en nagraadse sertifikaat in onderwys in Kaapstad voltooi het – het gou diep spore begin trap.
Oor die jare is sy tot departementshoof (grondslagfase) bevorder en het vir nege jaar op die beheerraad gedien.
Sy was verder aktief betrokke by sport, veral netbal en atletiek.
“Ek het die wonderlike voorreg gehad om vir drie generasies van dieselfde familie klas te gee: ouers, hul kinders en kleinkinders,” vertel Adriaan wat vir die meerderheid van haar loopbaan graad 3-leerders onderrig het.
“Ek kon dit later toe-oë doen.”
Die verskil tussen toe en nou se leerders?
Sy lag: “Kinders van toeka was meer gehoorsaam en pligsgetrou.”
Die grootste uitdaging: al die veranderings in die kurrikulum oor die jare. En die hope administratiewe werk.
Die lekkerste: om te sien hoe die leerders ontwikkel van skaam en onseker kinders tot groot en selfstandige graad 7-leerders.
“En ek het gehelp om hulle daar te kry,” sê sy trots.
Haar raad vir onderwysers: “Werk altyd as ’n span saam en vul mekaar aan. Doen altyd wat die beste vir die leerders is.”
Sit nie stil
Adriaan sien baie uit daarna om meer tyd met haar man, drie volwasse kinders in Johannesburg en kleinkind deur te bring, en ook te reis.
Sy gaan verder na haar bejaarde ma van 92 kyk.
“Ek het vir baie jare my tyd met my gesin met die skool gedeel,” sê Adriaan.
“Ons wil reis – enige plek, regoor die land.”