Maritza voed haweloses na liggaam en siel

ONDER ’n boom in die verlate, half-donker parkeerterrein oorkant die Jeffreysbaai-polisiekantoor staan twee vroue en gesels . . . die snerpende koue sny genadeloos deur hul skamele klere.


ONDER ’n boom in die verlate, half-donker parkeerterrein oorkant die Jeffreysbaai-polisiekantoor staan twee vroue en gesels . . . die snerpende koue sny genadeloos deur hul skamele klere.

Die paar plastieksakke waarin al hul besittings is, lê eenkant.

Hulle is trots op wat hulle het, al is dit min.

Nog mense daag stil-stil op.

’n Ma met ’n maand-oue baba, styf toegedraai in ’n kombers, twee kleuters en ’n opgeskote seun aan haar sy.

’n Karwag met sy getroue wit-en-bruin hond en ’n handvol laerskool-leerders. Almal honger.

Almal wagtend vir die “engele” met die groot kospotte wat oor hulle waak – die haweloses van Jeffreysbaai. Ongeag ouderdom, agtergrond of herkoms.

Die “engele” waarop hulle staatmaak vir kos, hoop en inspirasie?

Jeffreysbaai-inwoner en barmhartige Samaritaan Maritza Robyn en die Jeffreysbaai Toerisme-kantoor.

Hulle bestuur die afgelope twee maande die Fish and Bread Ministry sopkombuis met een doel voor oë: om honger en hawelose inwoners te voed – na liggaam en siel.

Meer oor die sopkombuis

Die Fish and Bread Ministries het ’n paar jaar gelede met ’n enkele gebed van Robyn se toe vier-jarige seun ontstaan: “Jesus, stuur asseblief engele”’.

Slegs weke later is dié straatbedien-ing in Johannesburg – Robyn se vorige tuiste – op die been gebring. Hier het sy vir drie jaar die minderbevoorregte inwoners bedien voor sy in Desember 2018 na Jeffreysbaai verhuis het.

Sy glimlag: “Ek het gou besef ek is spesifiek hier geplaas: om ’n sopkombuis vir die haweloses te begin – met liefde en omgee sonder oordeel.”

Dit het begin met ’n handjievol mense wat Dinsdagaande vir kos kom vra het, maar toe versprei die nuus en teen die vierde week was daar ongeveer 60 mense wat gretig wag – oud en jonk.

Dikwels vir hul enigste warm ete vir die week.

Terwyl hulle hier wag, sing hulle liedjies, luister na die Woord van God en word daar vir hulle gebid.

Sy prewel hartseer: “Die nood is verskriklik erg. Dit is hartverskeurend om te sien waardeur party mense gaan.

“Ons dink altyd dit is mense wat nie wíl werk nie wat so in ’n ry kom staan, maar baie keer word hierdie mense heeltemal gestroop van goed wat ons nie verstaan nie.

“My hartklop is nie dat mense jare lank by die sopkombuis moet wees nie; my wens is dat mense opgehef word. Baie van hulle kry werk, baie van hulle het ’n hele verandering in hul lewe.”

Vir Robyn is die sopkombuis so-veel meer as ’n bord warm kos.

Sy gee haar hele lewe, haar hart, om ander mense lief te hê en te versorg – of dit nou fisies of geestelik is. Hierdie sagte, nederige vrou is ’n kampvegter vir ander en sal selfs die klere aan haar lyf gee vir iemand wat dit nodig het.

“Ek is vir elkeen van hulle lief en lê soms nagte om en bekommer my oor hulle koud kry of nie genoeg het om te eet nie.”

Help só

Hulle kan egter nie so ’n projek alleen aanpak nie en het die hulp van die gemeenskap nodig.

Sop en ander kos is welkom.

Hulle benodig ook kom-berse, kinderklere en basiese toiletware, soos koekies seep en tandepasta – elke skenking word waardeer.

Meer inligting

Die Fish and Bread Ministries-sopkombuis bedien kos elke Dinsdag om 18:30 by die paarkeerterrein op die hoek van Woltemadestraat en Da Gama-weg in Jeffreysbaai.

Enige persoon wat honger is, is welkom.

Vir inligting, skakel Robyn by 083 631 4133 of besoek die Jeffreysbaai Toerismekantoor in Da Gamaweg.

Besoek die Fish and Bread Mini-stries Facebook-blad by


https://www.facebook.com/Fish-and-Bread-Ministries-International-1072707716141161/
.

You need to be Logged In to leave a comment.