Massa-toetsing vir Covid-19 begin in Kouga

TOETSING van deur tot deur vir die Covid-19-virus het vroeër in Kouga begin as deel van die massa-toetsing oor die land heen.


TOETSING van deur tot deur vir die Covid-19-virus het vroeër in Kouga begin as deel van die massa-toetsing oor die land heen.

Die vyf streke, Nelson Mandelabaai, Buffalo Stad, Amathole, Sarah Baartman en die O.R. Tambo-distriksmunisipaliteit, waar die provinsie se 31 positiewe gevalle aangemeld is, word eerste geteiken.

Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, het Maandag gesondheidswerkers vergesel na die Fameni-nedersetting in die Amathole-distriksmunisipaliteit waar inwoners vir die virus getoets is.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, het die veldtog vir die massa-toetsing verlede Donderdag by die Walmer-stadsaal in die Nelson Mandelabaai-metro bekend gestel. Hy het ook die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) in Port Elizabeth besoek.

Met die desentralisering van toetse het dié laborato­rium verlede week die mandaat gekry om die provinsie se toetse plaaslik te doen. Meer as 1 000 monsters kan daagliks by die laboratorium vir die virus getoets word.

Gomba sê in ’n poging om die verspreiding van die virus te bekamp, is sy van plan om soveel as moontlik mense in die provinsie te laat toets.

“As voorsorgmaatreël neem ons die veldtog na die mense in die meer afgeleë gebiede van ons provinsie. Die vier mobiele toetseenhede wat dr. Zweli Mkhize (minister van gesondheid) onlangs na die Oos-Kaap gestuur het, sal moontlike knelpunte help verlig.”

You need to be Logged In to leave a comment.