Meer as ’n eeu oud en nog perdfris

SY sit kiertsregop in die stoel en wag – spierwit hare en oë vol lag. ’n Elegante serp, juwele en wolhandskoene en twee komberse teen die koue.


SY sit kiertsregop in die stoel en wag – spierwit hare en oë vol lag. ’n Elegante serp, juwele en wolhandskoene en twee komberse teen die koue.

Catharina Elizabeth Potgieter – alombekend as Tannie Baby – gebore in 1914, het op Sondag, 22 September haar 105de verjaardag op Humansdorp gevier.

Haar lewe spreek van eenvoud en opregt-heid. Gebore op die plaas, Rosa, naby Oesterbaai, en na ’n geborge lewe, skool op Adelaide voltooi.

Na skool is sy terug plaas toe waar sy haar jongmeisiedae met kook, bak, borduurwerk en tuinwerk gevul het.

Sy is baie lief vir blomme – veral rose en malvas. En sjokoladekoek..

Sy sou dit nie anders wou hê nie, al sou sy weer kon lewe.

Tannie Baby, een van Humansdorp se oudste inwoners, het tot onlangs in haar eie eenslaapkamer-woonstel gebly. As sy uitgegaan het (en dit was dikwels) het sy die 30 trappe na onder met gemak gestap, sonder om uitasem te raak.

Vandag bly sy by Nita Mentz in die dorp, wie haar gereeld rondrits – hetsy dit kerk toe (sy mis nooit ’n diens nie), winkels of haarkapper toe is. Petro Roux-Kotze sit ook gereeld hand by.

Behalwe vir rondrits, geniet tannie Baby dit om by mense te bly wat vir haar goed is, en om saam met familie en vriende te kuier.

Sy is die jongste van twee broers en twee susters. Al haar mense is oorlede, behalwe ’n skoonsuster en dié se kind.

Hoewel haar gehoor oor die jare versleg het (heeltemal doof in haar linkeroor), is haar geheue glashelder, haar gesondheid goed en loop sy op haar eie.

Tannie Baby se gunsteling kleure: blou en swart. Deftige kleure.

Haar voorkeur-eetding: Five Star-sjokolade, kerrievis en lekker sop. En moet nie van die Coke vergeet nie. Water is slegs om pille mee te drink, en ’n koppie Engelse-tee in die oggend.

Waaraan skryf sy haar hoë ouderdom toe?

Sy lag vrolik: “Genade – dit is alles net genade van Bo, elke dag. Verder ’n rustige lewe sonder spanning,” sê sy.

En dalk omdat sy nooit getrou het nie. Al het sy drie kêrels gehad.

You need to be Logged In to leave a comment.