O, die donkie is ’n wonderlike ding . . . ja-nee die donkie is ’n wonderlike ding.
Maar dié donkie rol nie in die sand of vreet ’n koerant nie. Nee! Hy moet gestook word – en behoorlik ook.
Eers twee teesakkies deurweek van paraffien, verduidelik Eric Botha, eienaar van Ragels Rivier Gasteplaas, 30km buite Kareedouw, en steek dié sakkies aan die brand. Die fyn hout- jies volg.
Volgende is die dikhout. Dié gooi jy sommer van die kant af in.
Binne minder as ’n uur het jy warm water.
Terwyl die water stook, pak ons uit en verken die kliphuis – ons blyplek vir die naweek: twee slaapkamers (elk met sy eie badkamer), ’n kombuis, leefarea (met ’n groot vuurherd), stoep en buite-braai.
Wanneer die donkerte die plaas omhels – jou vleisie sissend op die indringerboom-kole – is die sterre en volmaan bokant jou prentjiemooi. Dit word snags pikdonker.
Uile roep en paddas gaan “huur” op hul beurt vuurvliegies om in die rivier te gaan opsit.
Stilte wat dreun
Dit is nog donker buite toe kondig die bokmakiere al die nuwe dag aan – nóg voor die werfhaan kraai.
Skape blêr in die verte.
Dis koud en dus beter om nog so ’n bietjie langer onder die komberse te vertoef. Netnou versteur ’n mens die voëls en dan is al die gefluit verby.
Want hierdie kliphuis kyk uit oor die landerye. Mooi. Sommer baie mooi.
Maar laatslaap is tydmors.
Ons kry vir Eric by sy getroue Toyota Land Cruiser (Annatjie), reg vir omgewingsverkenning. Ons ry verby ’n eensame perske- en lemoenboom – dalk die nasate van ’n oeroue vrugteboord? Regs van die ‘boord’ steek die oorblyfsels van ’n vergete fondasie tussen die bosse uit.
“Die plek is ryk aan geskiedenis . . .” mymer Eric. “En interessante name: Moordenaarskloof, Geutedrif en Koffie se Tuin (vernoem na ’n donkie).”
Kyk . . . wys hy berg-op. Teen die berghange lê oral stippellynpaadjies van klip wat met ’n byna onsigbare helling tot onder by die plaashuis loop.
“Dit is die ou watervore wat die eerste boere gebruik het,” vertel hy.
Ongelooflik.
’n Skilpad kou lustig aan ’n bossie.
Ragelsrivier
Ons stop vir boeretroos en heerlike tuisgemaakte beskuit by die rivier.
’n Bietjie regs lyk die groen en persblou water soos verf op ’n skilder se palet. Anderkant die groot swartwattel “baklei” die water teen die spoelklippe en kronkel dit om draai. Die berg kyk swyend toe.
Gehipnotiseerd staan jy daar, wonder watter verhale die Ragelsrivier jou kan vertel. Van droogte en vloed, vis, plant, mens en dier – wat deur die eeue heen in die gebied tussen ravyn, berg en vallei met mekaar leer saamleef het.
Híér, in die hart van die hoë Kougaberge, op die rand van die Baviaanskloof, voel dit asof jy alleen op die aarde is – soos Adam in die paradys voordat die mense vermenigvuldig het.
En die naam Ragelsriver?
Eric frons liggies: “Ek vermoed dié rivier is na ’n oud-inwoner, tannie Ragel, vernoem – maar die geskiedenis is skraps. Nie eers die ouer inwoners in die omgewing kan vir my sê hoe, waar en wat nie.”
Kameras werk oortyd, want die een uitsig is mooier as die ander. En wat so verrassend is, is dat daar om elke hoek en draai nuwe uitsigte, koppe, rotsformasies, berge, murasies en verskillende dier- en plantspesies is.
Terug by die kliphuis gaan sit ons platbas op die grondpad. Doodstil, totdat die skape en lammetjies – selfs ’n drie- en vierling nader staan en net vir ons kyk en kyk en kyk.
Wat ’n gevoel van vrede.
Ek beny Eric en Leigh-Ann se lewe langs die rivier tussen die berge.
Hier is spasie, stilte wat dorpsore dae neem om aan gewoond te raak, en eenvoud, maar bowenal tyd vir dink.
Gaan ‘wild’
Toekomsplanne sluit in meer kampterreine, asook verskeie boskampe – vir diegene wat heeltemal ‘wild’ wil kamp (heeltemal afgesonder van ander mense).
Verskillende staproetes en naambordjies is ook op sy doenlysie.
En om van al die indringerbome op die plaas ontslae te raak – ’n allemin-tige taak wat hom al die laaste sewe jaar besig hou.
Ragels Rivier Gasteplaas is die perfekte wegbreekplek vir diegene wat opsoek is na avontuur en ’n outentieke buitelewe-ervaring.
Dié aktiwiteite word aangebied:
- Stap
- Georganiseerde 4X4-roetes
- Visvang
- Swem in ongerepte poele, riviere
- Kampeer
- Voëlkyk
- Bergklim
- Fietsry (bring jou eie fiets)
- Kanovaart
- Skyfskiet
- Hoe kom ek daar? Van Kareedouw op die R62, neem die afdraai na Suuranys en volg die Ragels Rivier Gasteplaas-bordjies. Die plaas is 30km vanaf die R62-teerpad geleë. Maar wees gewaarsku: dié pad (soms meer klip as grond) deur bergreekse en haarnaald-draaie kan tot 60 minute (of langer) neem.
- Verblyf:Twee vrystaande selfsorg-kothuise (Stone Cottage en Nuege) met slaapplek vir onderskeidelik agt en ses gaste. Die huisies is slim ingerig en bied alles wat jy nodig het. Die kombuis is volledig ingerig (yskas, oond en ketel), en jy hoef geen eetgerei saam te bring nie. Daar is ook ’n kampterrein (Bokmakierie) met kombuis- en ablusiegeriewe, asook ’n boskamp (Fisantkraal).
- Bring saam: Kamera, verkyker, stapskoene en hoed.
- Geen ontvangs: Daar is geen ontvangs nie – dus geen selfoon wat kom intjip nie.
- Inligting: Vir meer inligting, skakel 082 709 7687 of stuur ’n epos na ragelsrivier@gmail.com. Besoek www.ragelsrivier.co.za.