Dit is ’n stil Donderdagmiddag by die tydelike skuiling vir haweloses by die Pellsrus-karavaanpark in Jeffreysbaai.
’n Seemeeu sit op die ysterheining en bespied die omgewing waar inwoners in die herfsonnetjie sit – sommige “gelukkig” genoeg om pluime sigaretrook die lug in te stuur.
Stap jy verby die gemeenskapsaal met die teerpad op, kom jy by vier wit markiestente uit waar bont wasgoed in die wind wapper. Kleiner tente – blou, rooi en groen – bied meer skuiling.
’n Blondekop-seuntjie peul glimlaggend en nuuskierig by ’n gebou uit. Nog `n seuntjie sit tevrede op sy pa se heup, fopspeen in die mond met wakker ogies.
’n Vrou groet vriendelik.
Ander kyk televisie en speel foosball.
Dié huisloses, en nagenoeg 50 ander siele, vind sedert die begin van die nasionale staat van inperking in Maart, vanjaar, toevlug by die skuiling.
Die doel van die toevlugsoord – opgerig deur die Kouga-munisipaliteit vóór die grendeltyd – is om hawelose mense van regoor Kouga wat gewoonlik in die veld of op winkelstoepe slaap, binne ’n veilige hawe met basiese geriewe te plaas.
Asook een of twee luukshede: DStv en WiFi.
Hawelose-skuiling
Kouga-burgemeester Horatio Hendricks glimlag trots waar hy voor een van die wit tente staan: “Die Kouga-munisipaliteit is die eerste munisipaliteit in die Oos- Kaap om ’n waardige skuiling vir hawelose inwoners op te rig – selfs nog voor die nasionale inperking-periode.
“Dit gaan nie oor eerste wees nie, maar om die ding te dóén – en om dit rég te doen.”
Dié skuiling, wat as ’n veilige heenkome vir haweloses regoor die Kouga dien, het vanaf 50 mense tot 72 gegroei, en is huidiglik `n tuiste vir 56 mense – waarvan almal vir Covid-19 voor toelating getoets is.
Niemand word toegelaat om die perseel te verlaat nie.
Die skuiling is ingerig om die voorgeskrewe fisieke afstand te handhaaf – beddens op houtkratte is `n entjie van mekaar af.
Hulle ontvang drie maaltye per dag en het toegang tot toilet- en stortgeriewe, asook mediese hulp en ondersteuning.
Verder het hulle toegang tot boeke, tydskrifte, legkaarte, bordspeletjies en balspeletjies.
Daar is ook DStv, gratis internet en ’n speelkamer vir die kinders.
Die rondawels op die perseel dien as isolasie-eenhede vir diegene met Covid-19 en tuberkulose. Daar is tans geen Covid-19 gevalle nie.
Hendricks sê plaaslike inwoners, ondernemings en nie-winsgewende organisasies se bydraes van onder meer kos en klere is van onskatbare waarde.
Groot skenkers sluit in Bay Pasta Co., Fish and Bread Ministries Jeffreysbaai, SASSA, Nelly Burrows, Help Feed JBay, Kouga-munisipaliteit, AfriSave en Masikhathalelaneni.
“Ons kry onophoudelike ondersteuning en die mense is ongelooflik vrygewig,” sê hy.
Uitdagings
Hendricks frons: “Daar is natuurlik verskeie uitdaging, soos dat baie haweloses drank- of dwelmverslaafdes is met die gevolglike ontrekkingsimptome – iets wat ons glad nie antisipeer het nie.
“’n Aantal van die verslaafdes het sedert die begin van die inperktyd oor die heining gespring en weggehardloop. Daar is ongelukkig niks wat ons daaraan kan doen nie.
“Baie van hulle het ook swak immuunstelsels en ander onderliggende siektes.”
Ná die inperktyd
Volgens Hendricks hoop hulle om hier ’n nalatenskap te kan bou wat hulle in die toekoms kan vorentoe neem.
“Dit sal ongelooflik wees as dié tydelike skuiling ’n permanente toe-vlugsoord vir hawelose mense kan word.”