PIERRE van Rooyen, voormalige hoof van Hankey Primêre skool, het ná 42 jaar as onderwyser, finaal die tuig neergelê met sy aftrede op 30 Junie.
As ’n boorling van Hankey het Van Rooyen sy lewe lank ’n diep liefde vir die gemeenskap en sy kinders gekoester.
Hy het homself in 1979 bekwaam as onderwyser aan Dower opleidingskool in Gqeberha waarna hy onmiddellik teruggekeer het na die plek waar hy self sy vormingsjare deurgebring het – Hankey Primêr.
Met harde werk en deursettingsvermoë het hy later sy kwalifika-sies verbeter sodat hy ’n bevorderingspos kon bekom. Dit het hy gedoen deur gedurende 1983 en 1984 drie maal per week aandklasse in Gqeberha by te woon, terwyl hy voltyds onderrig gegee het.
Sy harde werk het in 1987 vrugte afgewerp deurdat hy tot departementshoof bevorder is en in 1990 tot adjunkhoof. In hierdie pos het hy trots sy skool en sy gemeenskap tot in 2016 gedien, met ’n jaar se studieverlof in 1992, waartydens hy voltyds studeer het.
In 2015 is hy aangestel as waarnemende hoof van Hankey Primêr en hy het in 2016 amptelik in die pos begin werk.
Van Rooyen noem tydens ’n onderhoud met Kouga Express dat die besluit om na al die jare in die onderwys af te tree, nie een is wat hy ligtelik geneem het nie, maar na die skielike afsterwe van sy vrou tydens die 2020 COVID-19 pandemie het hy gevoel dat dit nou die regte tyd is om die vaandel aan te gee na die volgende leier.
Kouga Express het hom gevra wat, uit sy jarelange ondervinding, hy as die grootste uitdaging in sy gemeenskap ondervind het.
Hierop antwoord hy:
“Leerders wat uit moeilike huislike omstandighede kom het altyd ’n agterstand en is ’n groot uitdaging vir ons. Ons probeer hierdie kinders help na die beste van ons vermoëns, maar dit is nie iets wat die skool alleen kan oplos nie. As daar die ondersteuning vanaf die ouerhuise is nie, is dit moeilik.
“Ons het baie seisoenale werkers in ons gemeenskap, dus is baie kinders se ouers buite seisoen uitstedig met werk. Dit veroorsaak dat kinders soms nie stabiliteit tuis ervaar nie.
“Elke kind moet ten minste ba-siese benodighede soos water en elektrisiteit hê. Die realiteit is dat baie van ons kinders dit nie het nie. Behuisingskemas het in die afgelope jare van ons kinders se omstandighede verbeter, maar die nood is steeds baie groot.”
Grootste vreugde of sukses gedurende die afgelope 43 jaar?
“Dit was vir my ’n enorme voorreg om my lewe lank by hierdie skool betrokke te wees en ’n groter voorreg om aan die stuur te kon staan die afgelope paar jaar. Dit was vir my heerlik om die vooruitgang te kon sien in die skool, wat vernuwing van die geboue asook die aanbou van ekstra klaskamers insluit.
“My grootste nalatenskap aan die skool is egter die leesprogram wat ek onlangs geimplimenteer het. Ons het baie kinders wat in senior grade nog sukkel om te lees, as gevolg van probleme in die grondslagfase wat dikwels spruit uit moeilike huislike omstan-dighede. Ons wil graag vir hierdie kinders ’n kans op ’n toekoms gee, en hulle kan dit nie doen sonder om te kan lees nie.
“Ek het dit op myself geneem om my personeel te motiveer deur uit te lig dat dit nie sal help om te kla dat die kinders nie kan lees nie. Ons sou self die probleem moes oplos, anders sou daar nooit verandering of vooruitgang vir hulle wees nie.”
Raad aan voornemende onderwysers?
“Jy moet ten alle tye ’n positiewe gesindheid hê, anders gaan jou werk nie vir jou lekker wees nie. Sien probleme as uitdagings en pas al jou vaardighede toe om hulle te oorkom. Wees elke dag bereid om te leer. Onderwysers moet altyd daarna streef om hulself te ontwikkel. Jy kan nie op ’n eiland wees nie – skakeling tussen onderwysers is belangrik, asook skakeling tussen onderwysers en ouers.”