gewigoptel
Lorenda Cleaven, Lumar Karolse en Pieter Pretorius. FOTO: VERSKAF

Jeffreysbaai se opkomende gewigoptel-ster, Lumar Karolse, het onlangs by die SA junior kampioenskappe in die Kaap sonder die regte uitrusting steeds bo sy teenstanders uitgetroon.

Die 12-jarige gr. 6-leerling aan die Laerskool Pelsrus het dáár die Suid-Afrikaanse o.14-titel gewen – dít terwyl hy op die hoogste vlak met skoolskoene deelgeneem het.

Hy moes ook ’n gewigoptel uitrusting van Kevin du Plooy, jarelange WP en SA president, leen.

Maar steeds het hierdie agterstand nie verhoed dat hy hom as die beste o.14-atleet in die land vestig nie.

Ondanks sy agterstand het hy steeds met van die land se beste atlete klaargespeel wat bevoorreg was om die regte uitrusting te besit.

Sy vasberadenheid, vermoë en wil om te wen het die deurslag gegee.

gewigoptel
Lorenda Cleaven, Lumar Karolse en Pieter Pretorius kort nadat sy trofee in Jeffreysbaai opgedaag het. FOTO: VERSKAF

Só goed is die jongeling dat hy die groot gunsteling is om volgende jaar die titel te behou. Dit sal hom die eerste atleet in Suid-Afrika maak wat hierdie titel twee jaar agtereenvolgens wen.

“Dis eintlik hartseer dat Lumar onder sulke omstandighede moes deelneem,” het sy afrigter, Pieter Pretorius, nou eksklusief onthul. “Ons is egter dankbaar vir die oorwinning en het altyd geweet waartoe hy in staat is.

“Daarom bid en glo ons dat ’n borg of twee na vore sal tree om Lumar op sy pad vorentoe te ondersteun.

“Dit sal help dat hy sy volle potensiaal bereik met die regte uitrusting. Gewigoptelskoene en ’n suit van sy eie sal so baie vir hom beteken. Trouens, dit kan wondere vir hom verrig vorentoe.

“In ruil kan borge seker wees dat Lumar hulle naam hoog sal hou en hulle met skitterende prestasies sal beloon. Lumar maak nie net Pellsrus en Jeffreysbaai trots nie, maar die hele Oos-Kaap. Hy gaan nog ’n groot naam word in die sport. Dis vir seker,” sê Pretorius.

Instansies wat by Karolse se loopbaan betokke wil raak kan Lorenda Cleaven, hoof van sport en kultuur by Pellsrus, by die skool op 081 392 7888 kontak. Alternatief kan Pieter Pretorius by 063 133 2523 gebel word.

You need to be Logged In to leave a comment.