Michelle Klerck is bekend aan die meeste Jeffreysbaaiers as die eienaar van die suksesvolle dekorwinkel, Michelle K. Kouga Express het by hierdie kleurvolle besigheidsvrou gaan aanklop om meer uit te vind oor haar winkel, sowel as haar ervaring as vroulike entrepreneur.
Michelle vier hierdie maand die vyftiende bestaansjaar van haar winkel – ’n mylpaal vir enige besigheid.
As oorlewende van die plaaslike besighede wat swaar getref is deur die streng COVID-19 inperkingsmaatreëls, wat die sluit van nie-noodsaaklike besighede behels het, is dit vir haar ’n besonderse voorreg om steeds daagliks haar deure te kan oopmaak.
Jeffreysbaai het baie verander sedert 2006, toe sy vir die eerste keer haar winkel geopen het. Die Spar-sentrum waar Michelle se winkel nog al die jare op dieselfde plek staan, het oor die jare ’n massiewe gedaanteverwisseling ondergaan.
Sy vertel van die bioskoop wat destyds in die hoek van die sentrum was, en onthou ook die jare toe ’n skryfbehoeftewinkel was waar Nina’s restaurant vandag staan.
“Dit was in die jare voordat Fountains Mall hier was. Toe was die dorp baie anders. My kliënte het egter oor die jare getrou gebly en teruggekeer. Dit is lekker om dieselfde mense oor en oor te sien, al is dit net vir ’n geselsie. ’n Mens raak met die loop van tyd vriende en later amper soos familie,” vertel Michelle.
Michelle is vroeër jare as ’n oogkundige assistent opgelei en het daardie beroep in die Kaap beklee, waar sy en haar man eers gewoon het. Sy het wel nog altyd ’n passie vir dekor gehad en het deeltyds en naweke dekor-items op marke verkoop.
Sy het later in ’n binnenshuiseversieringbesigheid gewerk waar sy baie geleer en ondervinding in die veld opgedoen het.
Ná ’n jaar het sy egter besluit om haar drome te bewaarheid deur haar eerste winkel te open waar sy dekor-items verkoop het.
In 2006 is Michelle se man ’n werksgeleentheid in Jeffreysbaai aangebied en sy het besluit om haar winkel hier te hervat.
“My winkel is my passie. Dit is waarvoor ek leef. Ek het nie kinders nie, die winkel is my baba. Ek geniet dit om my eie stempel daarop af te druk en items aan te koop waarvan ek hou.
“Dit is ook vir my lekker om na spesifieke items te gaan soek as ’n kliënt iets aanvra. My winkel het volgens aanvraag gegroei om alles van dekor tot meubels, juwele en klere in te sluit. Koop en verkoop is vir my baie lekker. Ek is gek daaroor om winskope uit te snuffel en te herverkoop. Soms sal ek items oordoen en upcycle, veral meubels.”
“Gedurende vakansies skep ons die room af, maar ons plaaslike ondersteuners dra ons deur die res van die jaar. Dít is iets wat elke besigheidseienaar op hierdie dorp moet verstaan. Ek voel baie geseënd om deel van so ’n fantastiese gemeenskap te kan wees.”
Spiritualiteit is ’n groot deel van haar menswees, en sy glo daaraan om altyd positief te wees en te dink. Sy skryf haar sukses as besigheidsvrou aan haar pas-sie toe en glo dat enigiets waarna ’n mens streef suksesvol sal wees indien dit passiegedrewe is.
“Dit is die ongelooflike gemeenskap van hierdie dorp wat my die geleentheid gegun het om my liefde en passie elke dag vir die laaste vyftien jaar uit te leef, en daarvoor is ek baie dankbaar.”