KUNSTENAARS . . . adrenalienbelaaide pret . . . kuns . . . heerlike kos . . . kunsvlyt . . . lekkernye . . . en vars produkte.
Alles op een dag. En met een rede – om groot fees te vier.
Die gewilde Milkwood-mark in Jeffreysbaai vier Saterdag, 31 Oktober sy derde verjaardag met groot jolyt.
Ilana sal die gehoor op die dag vermaak.
Feesgangers kan uitsien na ’n swaartekrag-uitdagende, buitelug-avontuur opwindingsone – waar hulle kan leer “vlieg” op die “bungy bouncer”, aangebied deur Gypsy Events in Jeffreysbaai. Daar is ook ’n meganiese branderplank.
Pop-’n-ballon by die Corn Dog-stalletjie en wen lekker pryse, terwyl groot pryse tydens ’n gelukkige trekking om 10:00 op die spel is. Om vir dié trekking in aanmerking te kom, “like” die Milkwood Market se Facebook-blad, “tag” jou vriende en “share” die plasing van hul feesvieringe.
Plaaslike kunstenaars word gevra om op Saterdag die muur met hul kuns te verfraai.
Óók op die spyskaart
Benewe snel pret en vermaak, kan besoekers aan die mark, wat spog met gehalteprodukte van byna 80 stalletjiehouers, hul mandjies vol heerlike kos en lekkernye vul.
Produkte sluit in lekker beskuitjies, konfyt, warm skyfies, sjokolade en handgemaakte produkte, asook fynproewerkaas, roomys en soetgoed.
Voeg by die lys biltong, heuning, souse, plante, blatjang, feetjies, droomvangers, handgemaakte klere, dekor, leerprodukte, speelgoed en naaldwerk.
Moeg geloop? Ontspan by een van die vele tafels en geniet ’n heerlike ontbyt, of hou piekniek onder die groot geelhoutbome by die dam.
Milkwood-mark
Dié familiemark, die breinkind van Anri Wolmarans en Hannelie van Jaarsveld, wat in 2017 by ’n braaivleisvuur ontstaan het, het so momentum gekry dat ’n paar besielde entrepreneurs spoedig na ’n geskikte markruimte begin soek het.
’n Plaaslike inwoner, Dries du Preez, het ’n deel van sy grond beskikbaar gestel, en die keuse het geval op ’n geskikte perseel met ’n dam en melkhoutbome – vandaar die naam Milkwood-mark.
Toe al die aanvanklike reusewerk, soos grond voorberei, tafels en stoele vervaardig, advertensieborde ontwerp, stalletjies optower en voornemende uitstallers nadertrek, uiteindelik klaar was, is die eerste markdag op 28 Oktober 2017 met 35 stalletjies geopen.
“Ons innige dank gaan aan al ons stalletjiehouers en lojale ondersteuners – veral die wat die pad van die begin af saam met ons gestap het,” sê Wolmarans.
Die Milkwood-mark, geleë langs Fountains Mall op die grondpad na die Global Leadership Academy (GLA), vind elke Saterdag vanaf 08:00 tot 13:00 plaas.
Toegang is gratis.
Vir meer inligting, skakel Wolmarans by 082 966 8203 of Van Jaarsveld by 082 788 2880.
- Indien dit reën, sal die mark op Saterdag, 7 November plaasvind.