MET minder as 4% water oor wat uit die Kougadam onttrek kan word, was ’n 80%-beperking wat ingestel is op die waterkwota vir boere in die Gamtoosvallei nie juis ’n skok nie.
Hoewel die hewige beperking vir die nuwe waterjaar, wat op 1 Julie begin het, steeds ’n uiters moeilike tyd voorspel, aanvaar die boere wat geraak word daar is nie veel meer wat die departement van waterwese kan toeken nie, sê Rienette Colesky, uitvoerende hoof van die Gamtoos-besproeiingsraad.
Die watervlak van die Kougadam, wat ook water aan die Kouga-munisipaliteit en aan die Nelson Mandelabaai-metro voorsien, het gister op minder as 7% gestaan. Water kan tot op ’n vlak van 3,1% uitgelaat word.
Benewens die swaar beperking op die landbouverbruikers is ’n 70%-beperking op die metro se onttrekking uit die Loeriedam (ook water wat uit die Kougadam invloei) geplaas. Die dorpe Hankey en Patensie in die Kouga-munisipaliteit is met 30% beperk.
Terwyl die metro watertoevoer met waterbronne van die westelike opgaardamme en die Nooitgedacht-waterskema se water uit die Gariepdam kan aanvul, is die landbouverbruikers van die Gamtoosvallei geheel en al van die Kougadam afhanklik.
Colesky sê met die tempo waarin die Kougadam se water verminder het, het die landbouverbruikers nie verwag dat hulle ’n volle waterkwota sal ontvang nie en hulle het sover moontlik voorsiening hiervoor gemaak.
In die geval van die sitrusbedryf verwag Colesky dat boere op hul hoër-inkomstebome sal fokus, terwyl die ouer bome minder aandag sal kry. Die melkboere in die Mondplaas-gebied sal na verwagting sukkel om met slegs ’n 20%-waterkwota hul weiding genoeg water te kan gee.
Sommige boere wat kontantgewasse het, wat verpakte groente behels, het reeds hul produkte elders geplant waar die Kougadam nie die hoofwaterbron is nie.
“Die kontantgewasse word elders geplant met die doel om hul kontrakte met supermarkte te behou,” sê Colesky. “Al maak die landbouverbruikers nie noodwendig ’n wins hierdeur nie, is die hoofdoel dat hulle die kontantgewasse kan lewer en hul kontrakte behou tot wanneer dit weer beter gaan.”
Skaars twee jaar gelede het die landbouverbruikers ook slegs 20% van hul waterkwota gekry. Die waterkwota is egter later aangepas tot 40% toe goeie reën die Kougadam se watervlak tot 55% opgestoot het.
“Dit is die vyfde jaar van droogte, maar ons glo dit gaan iewers weer reën.
“Ons het hoop vir die jaar wat voorlê.
“Ons as die besproeiingsraad sal die skema so goed moontlik bestuur om die boere die grootste voordeel van die bietjie water te gee.”
Retief Odendaal, DA-woordvoerder oor landbou-ontwikkeling en landelike hervorming, het sy kommer oor die nuwe waterkwotas uitgespreek omdat die verminderde water ’n impak op die duisende hektaar sitrusboorde kan hê en tot werkverliese kan lei.
“Dit sal ’n harde slag vir die landbousektor wees wat van die nasionale tesourie vanjaar ’n afname van na raming 4,4% kan ervaar.”
Hy sê die distrik het van die land se grootste sitrusprodusente, wat ’n groot bydrae tot die provinsie se bruto binnelandse produk (BBP) lewer.
“Indien hul boorde verlore gaan, sal dit jare, selfs dekades, neem om te herstel.”
Odendaal het reeds ’n versoek aan Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, gerig, asook aan Nomakhosazana Meth, Oos-Kaapse LUR vir landbou-ontwikkeling en landelike hervorming, om onmiddellik noodfinansiering beskikbaar te stel om die boere en die streek met infrastruktuur vir die onttrekking van grondwater te ondersteun.