MMUSI Maimane, die DA-leier, het Maandag Jeffreysbaai besoek onder meer om die vordering van bouwerk aan Suid-Afrika se eerste sogenaamde plastiekpad te aanskou.
Teen einde Oktober behoort fase een van dié pad voltooi te wees, sê Horatio Hendricks, die burgemeester van die Kouga-munisipaliteit.
Dié 1,7 km lange plastiekpad sal Koraal- en Woltemade-straat van ’n gewone teerpad na ’n omgewingsvriendelike pad omskep.
Die munisipaliteit werk tans saam met MacRebur, ’n Skotse groep, om die pad volgens ’n metode te bou waar die asfalt deur afvalstowwe of plastiek vervang word.
MacRebur vervaardig plastiekkorrels uit herwinbare plastiek wat gebruik word in die plek van die asfalt, wat tradisioneel vir die boonste laag van die padoppervlak gebruik word.
Hendricks sê die koste vir ’n gewone teerpad kan tussen R7 miljoen en R12 miljoen/km wees. Die plastiekpad sal aanvanklik rofweg dieselfde kos, maar op lang termyn kan koste bespaar word omdat die instandhoudingswerk die helfte van dié van ’n gewone teerpad is.
“ ’n Pad het ’n leeftyd van sowat 25 jaar, so elke sewe jaar moet dit herseël word. Dié produk sal na verwagting twee keer so lank hou, wat jou instandhoudingswerk met die helfte sny.”
Indien die plastiekpadprojek suksesvol is, beoog die munisipaliteit om ’n fabriek te open wat die plastiekkorrels plaaslik kan vervaardig en die uitgawes vir ’n plastiekpad verder sal snoei.
Dié soort paaie is volgens Hendricks reeds in lande soos Skotland, Ierland, Indië en Australië suksesvol gebou en sê daar is bewyse dat die pad omgewingsvriendelik is en nie tot plastiekdeeltjies sal afbreek wat die aarde kan besoedel nie.
Maimane het in reaksie op die bou van die pad gesê dit is ’n innoverende manier om plastiek op lang termyn te herwin.
“Nie net is dit ’n reaksie op klimaatsverandering nie, dit is innoverend wat kostebesparing betref en dit sal boonop werk skep deur mense wat hul plastiek herwin,” het hy gesê.
Hy het benadruk dit is ’n DA-gedrewe projek wat hy hoop oor die land heen geïmplementeer word.