Egg
Die eier in die middel is baie maklik en vinnig om te maak. Foto’s: JOANÉ AZENHA

Al wat enige ma eintlik wil hê is haar kosbaarste juwele – die arms van haar kinders – om haar nek.

Dit is nie nodig vir duur geskenke nie, maar gee vir haar liefde en spandeer kwaliteit tyd saam as ’n gesin. ’n Groot bederf is natuurlik altyd ontbyt in die bed.

Hier volg twee resepte wat kinders (met so bietjie hulp van pa) self vir ma kan maak.

Top wenk: Sit die kos voor saam met ’n heerlike koppie tee of lemoensap en ’n blommetjie uit jou tuin.

Eier-in-die-middel

Wat jy nodig het:

1 sny brood

1 eier

5ml botter

5ml olie

Wat om te doen:

  • Kry enige mooi vorm koekiedrukker – soos ’n hartjie – en druk die vorm uit die middel van die sny brood. As jy nie koekiedrukkers het nie, gebruik ’n omgekeerde glas.
  • Smelt die botter saam met die olie in ’n pan.
  • Braai die sny brood aan een kant en draai dit dan om.
  • Gooi die eier versigtig in die gaatjie in die brood.
  • Plaas ’n deksel op die pan en braai totdat die eier gaar is.
  • Onthou om jou bord te versier met ’n takkie pietersielie.

Pancakes
Die piesangplaatkoekies.

Piesangplaatkoekies

Wat jy nodig het:

2 ryp piesangs, fyngedruk

350g koekmeel

2 eiers

5 teelepels gesmelte botter

1 teelepel vanieljegeursel

2 koppies karringmelk

Wat om te doen:

  • Meng die piesangs en koekmeel goed saam.
  • Plaas die eiers, gesmelte botter, vanielje en karringmelk in ’n mengbak en klits liggies.
  • Giet die eiermengsel versigtig oor die meelmengsel en roer bymekaar. Moenie dit te veel meng nie.
  • Spuit ’n pan met kleefwerende baksproei of sit ’n bietjie olie onder in die pan. Braai eetlepelsvol op medium hitte tot borrels op die oppervlak vorm. Braai dan die ander kant.
  • Sit dit voor met heuning of stroop.

You need to be Logged In to leave a comment.