“Tata my mensie, geniet jou daggie!” So groet menige mense jou in die loop van die lewe. Maar aai, is jy dan ’n klein mens, kry mens ’n groot dag en ’n klein dag?
Om te praat in verkleiningsvorme gee vir baie mense aanstoot. Veral as dit by plekke is wat diens lewer. “Ons volgende pasiëntjie kan maar deurkom . . . Meneer, wat is jou telefoonnommertjie en adressie?”
Dit stuit mense dikwels teen die bors. Baie mense ervaar dit as neerhalend en verkleine-rend, en dat jou menswees misken word.
By ’n restaurant het ek beleef dat die kelner my bestellinkie neem, my kossies en wyntjie bring, en ook die rekeninkie. Dan gee ek maar ’n fooitjietjie.
Die soort van praat kom ook gereeld voor wanneer daar met bejaardes of gestremde volwassenes gepraat word. Daar is reeds heelwat studies gedoen oor wat bekend staan as elderspeak.
Dr. Clarissa Shaw van die Universiteit Iowa het bevind dat veral mense wat aan Alzheimer se siekte of ander vorme van dementia ly, meer aggressief is en teenkanting bied teen versorg-ers wat hulle so aanspreek.
Dis nou gewoonlik waar familie, versorgers en ander selfs stadiger met hulle praat, eenvoudiger taal gebruik en troetelwoordjies soos sweetie, darling, honey ens. gebruik.
Shaw het ook bevind as daar met mense as volwassenes gepraat word, hulle tot sewe jaar langer kan leef as dié wat gereeld met verkleinwoordjies aangespreek word. Hulle het ook minder medikasie nodig, volgens die studie.
Ek besoek gereeld ’n oord vir bejaardes vir terapie, en die meeste sê hulle hou niks daarvan om as “ou mensies” gesien of aangespreek te word nie. Een vrou sê: “My lewe was vol, ek het kinders grootgemaak, ’n beroep gehad, ’n man gehad en ’n huishouding aan die gang gehou terwyl ek ook gemeenskapswerk gedoen het. Daar is niks klein aan my nie.”
Daar kan nogal heelwat nuanses wees in die verkleinwoord-praat. Soos iemand my anderdag nooi: “Kom eet by ons, ek gaan sommer ’n boudjie in die oond druk.”
Mensig, teen die prys van vleis moet mens eintlik met respek praat van ’n Boud.
Of nog iemand sê: “Ons het toe besluit om hierdie motortjie/huisie te koop, “terwyl jy goed weet die prysetiket beloop ’n paar miljoen.
Daar word wel geredeneer dat verkleinwoordjie-praat goed bedoeld is. ’n Versorger sê: “mens wil hulle maar net op hulle gemak stel, dat hulle jou beter verstaan en dat jy sorgsaam is.”
Vriend Francois meen hy is glad nie sensitief daaroor nie. “Nee wat, ek dink dis mooi, liefde-vol en vriendelik. Vir my dui dit nou weer op respek en ’n positiewe ding.”
In Vrye Weekblad skryf Madelein Barnard dat die manier van woorde met rooskleurige strikkies versier en die diminutief gebruik, ’n epidemie is. Of is dit nou ’n epidemietjie?
Die gebruik kom waarskynlik uit ons Nederlandse voorvaders se taalgebruik waar daar dikwels ’n verkleiningsuitgang aan woorde is. En daar is ook bevind dat dit meestal vroue is wat hieraan skuldig is.
My broer Japie meen al waaroor hy sal skik in die verkleiningsvorm, is die kleintoontjie en kleintongetjie. Geniet die aandjie!