MYRTLE Jenkins vee ingedagte oor haar kort hare – spierwit van die ouderdom, al voel sy nie ’n dag ouer as 80 nie.
Haar oë is wakker en vol lewenslus. Dit is net die bene wat begin pla – dié dat sy in ’n rolstoel is. ’n Stoel waarin sy kiertsregop sit. ’n Elegante helderpienk baadjie, netjiese swart broek en wit hemp spesiaal vir die foto.
Sy lag: “Dit maak blykbaar vir ’n mooi foto.”
Jenkins, gebore ’n nooi Bodington in Cullinan, vier op Vrydag, 9 Oktober haar 100ste verjaardag by die Jeffreysrus Aftree-oord in Jeffreysbaai waar sy nagenoeg ’n dekade woon. Eers in haar eie woonstel, en nou in die oord se siekeboeg.
Haar geheim?
Sy het altemit haar tien broers en susters oorleef – almal ouer as sy.
“Daar is geen geheim nie,” sê Jenkins, wat nooit gedink het sy gaan ’n eeu oud word nie. “’Dit is net te danke aan die krag en genade van die Here . . . Hy is goed vir my en ek is Hom dankbaar vir alle dinge.”
Volgens haar, het haar ouers altyd uit die Bybel vir hulle gelees. Tot sy haar eie Bybel op 12-jarige ouderdom gekry het.
Sy lees tot vandag nog daagliks uit dié Bybel.
Jenkins, ’n weduwee vir 18 jaar, was vir 36 jaar met Noel Jenkins getroud. Hulle het nie kinders gehad nie.
“My familie se kinders is baie goed vir my,” sê sy. “Ek kry gereeld oproepe vanuit Skotland en Nieu-Seeland. ’n Ander een bring gereeld vir my sjokolade, beskuit en piesangs.”
Soek sy ’n groot koek vir haar verjaardag?
Sy frons liggies: “Nee, eerder southappies. My man was die een met die soettand.”
Oor Eedenglen sê Jenkins: “Ek kon nie vir ’n beter plek gevra het om my laaste lewensjare deur te bring nie.
“Almal is geduldig, vriendelik en hulpwaardig – ongeag die tyd van die dag of nag.”