HY stap die vier dae-lange Chokka-slenterstaproete kaalvoet – oor duineveld, rotse, klippe, veld en dolosse.
Al 13 jaar lank het hy geen vaste adres nie en sy aardse goed pas in een sak – behalwe vir sy Volkswagen Beetle en Mercedez Benz Vito, wat as ‘huis’ dien wanneer hy nie swerf nie.
Anders slaap hy in ’n boom. Òf in die veld onder die sterre.
Ontmoet vir St. Francisbaai-bewoner Frikkie van Niekerk (57) – ’n vry siel en ewige reisiger wat vir meer as ’n dekade ’n eenman-oorlog teen sy eie koolstofvoetspoor voer.
En dié stryd wen.
Sy vyand nommer twee is mense wat òf in òf met die natuur mors.
Geen omdraaikans nie
Van Niekerk onthou duidelik die oomblik toe hy waarlik besef het daar is geen omdraaikans nie – dat hy van die sosiale norme losgebreek het en amptelik ’n swerf-ling geword het.
Hy glimlag breed met blinkwit tande: “Dit was toe ek vir die eerste keer in ’n boom gebly het.”
Weke lank het hy ’n teken gesoek – enigiets wat vir hom sou wys dat hy die regte besluit geneem het om in 2007 van byna al sy aardse besittings ontslae te raak; dat hy taai genoeg is om ’n swerwersbestaan te voer.
En toe Van Niekerk vir maande in ’n boom moes bly, terwyl hy help bou het aan ’n eksklusiewe lodge in Zimbabwe, het hy einde-lik sy bewys gehad.
Die een interessante werk na die ander – asook vele avonture – reg-oor Afrika en Asië het gevolg: 12 verskillende werke in vier lande.
Sonder om een keer amptelik vir ’n werk aansoek te doen.
Vele talente
Van Niekerk, wat min erg aan geld het, het tydens sy maandelange verblyf in Indië verskeie chemiese produkte gemaak.
Híér het hy ook ’n 125cc Honda-motorfiets in ’n ryende muskiet omskep en juweliersware ontwerp.
In Thailand was hy die eienaar van ’n restaurant en het die romp van skepe in Singapore skoongemaak – enigiets om geld te verdien wanneer hy platsak is.
Hy was ’n bemanningslid op ’n seiljag en het meubels en kaste gebou.
In Zimbabwe het Van Niekerk gehelp om ’n spoggerige lodge by Victoria-waterval te bou, asook boomhuise op ’n eiland in die Zambezi.
Dit is hier waar hy vir sewe maande in ’n boom gebly het – nie lus om heen en weer tussen die eiland en die hoofland te ry nie.
Sy tuiste: ’n seil tussen bome en ’n ou verfdrom as stort.
Van Niekerk help sedert 2012 met die Chokka-slenterstaproete van Esti en Eric Sewart. Stappers hang gewoonlik aan sy lippe as hy eers begin om al sy wedervarings van sy swerwersbestaan met hulle deel.
Dit is in skrille kontras met die tyd toe Van Niekerk nog as ’n bankteller gewerk het. Òf by die hooggeregshof. Hy was ook ’n verkoopsverteenwoordiger en die eienaar van ’n wegneemete-winkel.
Dit was aaklige dae: “Ek was altyd gespanne. En so verveeld. En depressief daaroor om te dink ek gaan dit vir altyd en altyd doen,” sê Van Niekerk wat onder meer regte, sielkunde, bemarking en stadsbeplanning studeer het – maar niks klaargemaak het nie.
“Ek het seker al meer as 300 verskillende werke gedoen.”
Koolstofvoetspoor
Sedert die begin van sy landloper-dae probeer Van Niekerk om sy koolstofvoetspoor tot die minimum te beperk.
Hy dra slegs tweedehandse klere en loop sedert April 2015 kaalvoet waar hy kan, want dit is prakties – selfs wanneer hy na die buiteland vlieg.
Dra hy ooit skoene?
Van Niekerk frons liggies: “Ja, wanneer ek op die Gautrain moet klim, maar ook net omdat hulle my nie sonder skoene op die trein toelaat nie. Sodra ek binne die trein is, trek ek weer my skoene uit.
“Ek het verder tydens die onlangse Lilizela-toekennings (die Chokka-slenterstaproete het ’n toekenning opgeraap) geleende skoene gedra – op aandrang van Eric Stewart. Maar ek trek vir niemand anders skoene aan nie.”
Hy lig sy een voet op vir inspeksie: dit lyk egter nie of sy voete duwweltjies tot snuif kan trap nie.
Maar hy verseker my sy voete is taai.
Van Niekerk poog om so min as moontlik verwerkte voedsel te koop en vas vir 36 ure per week.
Sy enigste luukse: Sy pa se horlosie.
Toekomsplanne
Van Niekerk bly tans in sy Mercedez Benz Vito op die kanaal. Dié spog met ’n gemaklike bed, klein laaitjies, ’n skuifdeur, kombuisie en stort.
Hy hoop om binnekort weer Thailand te besoek – maar eers ná die Covid-19 pandemie.
Sy groot droom?
Om sy inkomste aanlyn te verdien – ongeag waar hy homself bevind.
“Ek bly maar ’n swerwer,” lag hy.