Sedert Percy Hickman, die eienaar van African Dawn Bird and Wildlife Santuary ’n veilige hawe vir beseerde of mishandelde voëls en diere in 1997 gestig het, het hy ook ’n baie suksesvolle vrywilligers-program in 2003 op die been gebring.
Natuurlik het die nagevolge van die COVID-19 pandemie ook die voël-en dieresentrum swaar beïnvloed, maar met fyn beplanning en ’n hand wat diep in sy eie sak gesteek moes word, kon Percy die deure daarvan oophou.
As gevolg van die inperkings-regulasies was daar ook nie vrywilligers gedurende die tyd wat kon help nie en dit was behoorlik ’n bontstanery om alles met die min hulp wat hy tot sy beskikking gehad het, gedoen te kry.
Gelukkig kan die sentrum en die nuwe wildpark daarnaas nou weer besoek word.
African Dawn kan bereik word deur die afrit 702 vanaf die N2 na Thornhill te neem.
Daar draai jy regs op die R102 waar die naambord van African Dawn Bird and Wildlife Sanctuary sommer gou aan die linkerkant van die pad te sien is.
Draai dan af op die 6 km grondpad wat deur ’n vreedsame, landelike toneel kronkel en aan die einde van die pad, paslik ge-noem Sanctuaryweg, sal African Dawn se klipingang soos ’n to-neel uit ’n ou avontuur-prent voor jou opdoem.
Johan Herbst, wat homself nie as ’n bestuurder beskou nie, maar eerder ’n vrywilliger met ’n magdom take, is deesdae Percy se regterhand en van groot hulp wanneer dit kom by die versorging van die diere.
Sy gesig versag sommer as hy vertel van die splinternuwe klein volstruisie, die enigste van twee wat oorleef het en wat tot in die afgrond deur die personeel daar bederf word.
Daar is ook twee splinternuwe nuwe swane wat wantrouig na die kamera loer en omkyk-omkyk na die kosbakke waggel wanneer dié gevul word!
African Dawn is as ’n organisasie sonder winsbejag geregistreer, hoofsaaklik met die doel om voëls en ander diere te rehabiliteer of ’n veilige hawe aan te bied indien hulle nie weer vrygelaat sou kon word nie.
Op die “werf” woon daar ’n yslike hoeveelheid voëls en diere in verskillende groot en netjiese hokke.
Van ’n glibberige krokodil, tierboskatte tot jagluiperds en selfs twee lama’s en ’n “tammar wallaby” (’n kleiner weergawe van ’n kangaroo), sowel as die oulikste marmoset-apies waarna mens vir ure kan kyk!
Percy bena-druk dat hulle nie teel met die jagluiperds nie, maar dat al die diere wat permanent daar woon en nie vrygelaat kan word nie, as ambassadeurs van hulle spesie ter bewusmaking gebruik word.
In die wildpark is daar kameelperde, gewone- en swart rooibokke (impalas), sebras, nyalas, blesbokke (gewone so-wel as wit blesbokke), duikers (gewone en die skaars klein blouduiker), luiperdskilpaaie, koedoes, water- en bosbokke, klein grysmuishonde, ’n ystervark, ratels en blou ape.
Onthou ook jou verkyker om die verskeie voëlspesies in die park dop te kan hou!
Besoekers aan die park ontvang ook ’n kaart waarop die diere tydens hulle besoek afgemerk kan word.
“In die nabye toekoms beplan ons om ’n kampeerterrein in die park op te rig,” sê Johan.
“Dit sal veral aan Oos-Kaapse besoekers ’n geleentheid bied om sommer vir ’n naweek op hulle voorstoep in die natuur ’n blaaskansie te neem.”
“Met die petrolpryse wat nou so styg kan min mense dit bekos-tig om ver na een van die groot wildparke in ons land te reis.”
By die sentrum is daar is ’n kiosk waar roomys, koeldrank en aartappelskyfies gekoop kan word, maar besoekers word aangemoedig ’n piekniekmandjie te pak.
“Bring sommer heeldag in die park en sentrum deur en ontspan daarna luilekker onder die groot ou peerboom se skadu,” sê Johan.
Die sentrum is ook geskik vir kinderpartytjies waar kinders in ’n veilige omgewing meer oor die voëls en diere daar kan leer en ’n kans sal kry om die kuikens, voëls, tarentale en poue wat vrylik daar rondbeweeg, te kan voer.
Natuurlik is dit duur om so ’n sentrum te bestuur en daarom sal alle donasies of dit nou kontant of vrugte en groente is, baie waardeer word.
Besighede is ook welkom om ’n “hok” te borg waarop die besigheid se besonderhede op ’n advertensiebord by die hok aangebring sal word.
Komaan skole, watter goeie manier is dit nie om leerders te werf en sommer terselfdertyd by die bewaring van die omgewing, juis vir ons kinders se toekoms, betrokke te raak nie!
Besoekers aan African Dawn het ’n keuse om die dierehawe of wildpark of albei te besoek. Die koste daarvan is op die webtuiste beskikbaar.
- Skakel 042 286 0710 of besoek www.africandawnwildlifesanctuary.com vir meer inligting.