DIE polisie is sy lewe . . .

Al skryf hy twee penne ’n week leeg en het sy handskrif oor die afgelope vier dekades van netjies na onleesbaar verander.

Adjudant-offisier Hennie van Rooyen (60) het verlede Donderdag ná 42 jaar diens in die polisie met ’n swaar hart afskeid geneem. Maar hy praat geensins van sy beroep in die verlede tyd nie.

In sy hart sal hy altyd ’n polisieman wees. ’n Passievolle inwoner wat die gemeenskap dien.

“Ek is gebore om ’n blou uniform te dra,” sê Van Rooyen – die eerste polisiebeampte in sy familie.

Hy frons liggies: “Ek neem met ’n swaar hart van die polisiediens afskeid. Ek tree af omdat ek vanjaar 60 jaar oud geword het en nie langer in die polisiediens mag werk nie.

“Daar was nie een dag dat ek my loopbaankeuse in twyfel getrek het nie – goed of sleg.”

Van Rooyen het in 1976 by die polisie in Ui-tenhage aangesluit voor hy na die polisie opleidingskollege is.

Na kollege is hy na Oos-Londen, Queenstown en weer terug na Uitenhage waar hy by die veediefstal-eenheid begin werk het.

In 1992 sluit hy by die voertuigdiefstal-eenheid in Humansdorp aan, en twee jaar later by die speurtak in Jeffreysbaai.

  • N

Maar nie eers ’n hartaanval kon hom van sy werk weghou nie. Nog voor sy siekverlof verby was, was Van Rooyen terug op sy pos. Gereed om die gemeenskap te dien.

Hy lag: “Ek is seker die polisieman met die minste siekverlof op sy rekord.”

Hoogtepunte?

“Om mense te help,” sê hy. “En om deel te wees van ’n dinamiese span wat help om misdadigers vas te vat en sake suksesvol op te los. Alles met deernis.

“Ek sê altyd vir my kollegas: behandel die publiek soos jy behandel wil word. Jy weet nooit wanneer jy in hulle skoene staan nie – wanneer misdaad jou tref nie.”

Laagtepunte sluit in moord- en selfmoordsake. Veral kinders.

“Ek is net dankbaar dat ek daardeur kon werk en deur alles – maak nie saak hoe sleg nie – positief kon bly,” sê van Rooyen.

Al sien hy op daarteen om nooit weer sy blou uniform te dra nie, het hy heelwat planne wat hom besig gaan hou.

“Eers gaan ek net rus,” sê hy.

“Dan is dit weer aan die werk spring. Ek wil steeds mense met die vuurwapenwet by-staan.”

En wat van laat slaap?

“Beslis nie,” sê Van Rooyen wat vir nege jaar rugby by die Hoërskool Nico Malan in Humansdorp afgerig het.

“As speurder was dit 05:00 uit die vere om 06:00 by die werk te wees.

“Ek staan tot vandag toe nog elke dag 05:00 op. Net met die verksil dat ek nou soggens 06:00 by Caltex Wavelands stop vir ’n koppie koffie en gesels met ’n groep mans wat elke oggend daar bymekaarkom.

“Ek gaan steeds oggende daar ‘aanmeld’.

“En dan is dit seker maar weer terug huis toe.”

Van Rooyen sê hy is geseënd met ’n wonderlike vrou, Lizelle, en vier kinders.

You need to be Logged In to leave a comment.