Nataniël en ander ikone vir die eerste keer op Jeffreysbaai

Die Skulpiesdorp gaan eersdaags haar feesjas swaai wanneer kunstenaars soos Nataniël, die veelbekroonde Amanda Strydom, en Elzabé Zietsman op die planke hier te sien sal wees tydens Kunskoors wat van […]

'n Groot verskeidenheid kunstenaars sal op die verhoog wees by Kunskoors in Jeffreysbaai.
Prentjie vir illustrasiedoeleindes. Credit: Pixabay

Die Skulpiesdorp gaan eersdaags haar feesjas swaai wanneer kunstenaars soos Nataniël, die veelbekroonde Amanda Strydom, en Elzabé Zietsman op die planke hier te sien sal wees tydens Kunskoors wat van 1 tot 3 Mei aangebied word op Jeffreysbaai.

Routrip, Zietsman se eenvrouvertoning waarin sy verskillende karakters speel, is vir drie Naledi toekennings genomineer: beste optrede in ‘n solo-vertoning, beste vroulike hoofrol in ‘n musikale produksie, en beste nuwe Suid-Afrikaanse teks. Sy is ook genomineer vir beste kabaret vir Vier Panado’s en ‘n Chardonnay. Amanda Strydom is ook by die kykNET Fiësta-toekennings vereer vir haar lewensbydrae tot die kunste in Suid Afrika.

Inwoners gaan ook kunsvorme soos opera, ballet en klassieke musiek van uitsoekkunstenaars kan geniet.

Die opera-geselskap kom van Kaapstad: José Dias (pianis), Janelle Visagie en Lesego Mkhulanazi. Hulle is almal internasionaal gerekende musici. “Die ingangsportale van die nege venues gaan spoggerig getooi wees, en dis die ideale geleentheid om bietjie op te dress. Elke toeskouer sal onbelemmerde uitsig hê op die verhoog, en die klank is van hoogstaande gehalte,” sê feesdirekteur Soria Swart. “Ons is bevoorreg om kunstenaars van hierdie kaliber hier op ons drumpel te hê. Al wat ons moet doen is om die geleenthede te benut en dit te ondersteun, “sê Swart.

Vir meeste van die kunstenaars is daar net een vertoning. Maak seker jy koop betyds kaartjies. Kontak Soria Swart by 082 684 4350 vir kaartjies en navrae.

Daar sal ook spesiale kaartjieverkooppunte wees by die Fountains Mall op 28 en 29 Maart, en 4,5 en 6 April.

Vir die volledige program en meer inligting, besoek www.kunskoors.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.